Moenie wag nie; geniet jou lewe nou

2023-05-02
Prediker 3:22 NLV

Salomo skryf: ‘Ja, ek het agtergekom dat daar niks beters is nie as dat mense gelukkig is in hulle werk. Dit kom die mens toe. Wie kan hom laat weet wat ná hom sal gebeur?’ Begin dink wat jy kan doen om meer vreugde in elke ervaring te vind. Die huidige oomblik is al wat gewaarborg is, moet dus nie wag tot later – tot jy trou, aftree, op vakansie gaan of tot jou kinders met universiteit klaarmaak – om jou lewe te geniet nie. Niemand weet wat volgende in hulle lewens of in die wêreld gaan gebeur nie. Jy lewe nou, omhels dit dus en vier dit.

Niemand was besiger as Jesus nie, tog het Hy geweet hoe om die lewe te vier! Sy eerste wonderwerk het by ‘n troue plaasgevind. Sy skedule was gejaagd, tog het Hy dit onderbreek om tyd saam met kinders te geniet. Die behoeftes waarvoor Hy te staan gekom het was eindeloos, tog het Hy tyd geneem om te rus.

‘n Anonieme skrywer sê: ‘As ek my lewe kon oorhê, sou ek meer kanse en meer reise onderneem het. Ek sou meer berge uitgeklim het, in meer riviere geswem het en na meer sonsondergange gekyk het. Ek sou meer roomys en minder boontjies geëet het. Ek sou meer ware probleme en minder denkbeeldige probleme gehad het. Ek was een van daardie mense wat nêrens sonder ‘n termometer, ‘n warmwatersak, ‘n reënjas en ‘n valskerm gegaan het nie. As ek dit alles oor moes doen, sou ek plekke besoek, dinge doen en ligter reis as wat ek het.’

Moenie wag nie; geniet jou lewe nou.

Sielskos: Num 1-2; Matt 5:21-26; Ps 35; Spr 10:28-29