Dit werk binne jou (4)
2022-07-31Romeine 8:26 NLV
Die twee pilare van ‘n gelowige se daaglikse lewe behoort gebed en Skriflesing te wees. Terwyl gebed dalk eenvoudig mag lyk, is dit nie altyd maklik nie. Ons kort motivering, ons aandag word maklik afgelei en ons is nie altyd seker waarvoor ons moet bid nie. Omdat God ons menslike ontoereikendheid besef, voorsien Hy ons van hulp in die vorm van die Heilige Gees.
Paulus skryf: ‘…Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugtinge wat nie in menslike taal verwoord kan word nie. Dié God wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree’ (verse 26-27 NLV). Dit beteken dat dit nie saak maak hoe jy voel wanneer jy bid nie, die Heilige Gees bid saam met jou, vir jou en transformeer jou swakste gebede in kragtige oproepe tot die Vader.
Wanneer dit by die tweede pilaar kom, naamlik die Woord van God, is die Heilige Gees se rol ewe dinamies. Jesus het gesê: ‘Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel’ (Johannes 16:13 NLV). Die Heilige Gees doen drie dinge: 1) Hy lei ons terwyl ons die Woord van God bestudeer en dit probeer verstaan. 2) Hy neem dit wat Jesus wil hê ons moet weet en openbaar dit aan ons. 3) Hy maak ons gedagtes oop oor dinge wat nog voorlê.
Natuurlik is goeie naslaanboeke, Skrifgebaseerde hulpbronne en bekwame Bybelonderwysers nodig en nuttig, maar dit is geen plaasvervanger om die Heilige Gees self te hoor en aandagtig te luister na dit wat Hy vir jou wil sê nie.
Sielskos: Jos 1; Ps 27:11-14; 2 Tim 2:1-15