Dit werk binne jou (2)

2022-07-29
Johannes 16:7 NLV

Selfs terwyl die dissipels se harte seer was oor Jesus se vertrek, het Hy hulle verseker dat dit tot hulle voordeel sou wees, omdat dit vir hulle ‘n nuwe era van krag en gesag sou meebring (sien Johannes 14:12). Om ‘onder nuwe bestuur’ te wees, was nie die einde nie, maar ‘n voortsetting van Christus se bediening, aangesien die Heilige Gees die aflosstokkie uit die Seun se hand geneem het en dit in hulle hande geplaas het. Die Seun sou weggaan, maar die Gees sou ‘…vir altyd by [hulle] wees’ (Johannes 14:16 NLV). Die Gees sou hulle menslike liggame binnegaan en permanent in hulle woon!

Dis nie ‘n tentatiewe, vae verbinding nie. Dis God se Gees wat ons as sy permanente woonplek kies. Het jy al ooit die voordeel wat dit ons gee, oorweeg? Jy kan byvoorbeeld more wakker word en gestres, moeg en geïrriteerd voel en, menslik gesproke, kan hierdie gevoelens maklik jou dag bepaal. Omdat die Gees egter in jou lewe, hoef hierdie soort dinge jou nie te beheer nie.

Paulus skryf: ‘Of verstaan julle dan nie dat julle liggame ‘n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon… nie?..’ (1 Korintiërs 6:19 NLV). Sodra jy hierdie belofte deur geloof aanvaar, word jy God se tempel. Jy kan by die werk wees, besig wees om die kinders skool toe te neem, met die hond gaan stap, vir die biopsie se resultate wag, die begrafnis van jou beste vriend bywoon of met jou alledaagse take voortgaan – God se Gees lewe in jou.

Kan jy nou insien hoekom Jesus vir die dissipels gesê het dat dit tot hulle voordeel is dat Hy weggaan en vir hulle die Heilige Gees stuur? Wat jy ook al doen, moenie dat hierdie lewensveranderende waarheid by jou verbygaan nie!

Sielskos: Hand 22-23; Matt 28:11-20; Ps 46; Spr 16:20-22