Dit werk binne jou (1)

2022-07-28
Johannes 14:16 NLV

Onthou jy aandete sonder selfone, stemboodskappe, teksboodskappe en breinoorlading? Vriende en familie wat mekaar se geselskap geniet, sonder om deur tegnologie onderbreek te word? Ons is ‘n generasie wat besig is om die kuns van kommunikasie en intimiteit te verloor – en dit is besig om ‘n impak op die tyd wat ons alleen met God bestee, te hê.

Alhoewel Jesus die tegnologie-era voorafgegaan het, was Hy in konstante aanvraag; skares het Hom op alle ure van die dag en nag agtervolg. Nietemin, sê die Skrif vir ons: ‘Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ‘n stil plek gaan bid’ (Markus 1:35 NLV). Jesus het tyd gemaak om alleen met sy Vader te wees. Dit verg geestelike dissipline om die lewe se geraas te elimineer en stil te wees en te luister. As jy dit egter oefen, sal jy ‘n hartsbevredigende intimiteit en gemeenskap met God ontdek.

Belê in ‘n paar minute om hoofstukke 14-16 in die boek van Johannes te lees en laat jou gees Jesus se boodskap absorbeer. Hierdie is seëninge wat Hy ook met jou wil deel. Hoe kan jy dus hierdie vrede en gerusstelling vind? Dit werk binne jou, want die Heilige Gees woon in jou. Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees’.

Dit mag dalk die Christendom se bes bewaarde geheim wees, dat die Heilige Gees inwonend in elke gelowige is en in staat is om alles te voorsien wat ons nodig het om die lewe se moeilikhede te hanteer. Die Raadgewer is deur die Seun beloof, deur die Vader gestuur en Hy is vandag ons s’n deur geloof. Omhels Hom, vertrou sy krag, ervaar sy vrede en volg sy onfeilbare leiding.

Sielskos: Hand 20-21; Matt 28:1-10; Ps 42:6-11; Spr 16:17-19