Daar is geen minderwaardige werk nie
2021-08-291 Korintiërs 10:31 NLV
Dawid het gesê: ‘…Ek sal liewer net ‘n deurwag in u huis wees as om in die grootste paleise saam met mense te bly wat nie van U hou nie’ (Psalm 84:11 DB). In ooreenstemming hiermee, skryf Joni Eareckson Tada: ‘Elsie bestuur ‘n Christelike huis vir jong meisies wat die lewe van prostitusie en dwelms op die strate van Hollywood agtergelaat het. Sy stap in die strate, deel die Evangelie en lei hierdie meisies na Christus toe. As hierdie nuwe bekeerlinge dit waarlik begeer om hulle lewens te verander, is daar vir hulle in Elsie se huis plek. Pam is een so ‘n bekeerling. As Christen met ‘n mooi geaardheid, dra sy die littekens van mesgevegte en heroïen-naalde met haar saam. Ek het haar vreugde en diepe waardering toe sy haar rol in die huis vir my vertel het, aangevoel: ‘Ek skrop die toilette en die badkamers. Dis my werk en ek is mal daaroor!’ Hierdie jong dame was so dankbaar om struktuur in haar lewe, ‘n veilige omgewing en ‘n eerlike werk te hê, dat een dag van diensskap in Elsie se huis ‘n miljoen keer beter was as ‘n duisend dae wat aan die strewe na selfvernietigende plesiere bestee word. Haar vreugdevolle siening van haar werk het vanuit ‘n fyn bewustheid van haar rol in die liggaam van Christus, gespruit. Min gelowiges het dieselfde agtergrond as Pam, maar elkeen van ons rol daagliks ons moue op om geringe, basiese take te verrig – om die motor se olie te gaan ruil, om nuwe ink in die drukker te sit, of om doeke om te ruil (dalk selfs ‘n bejaarde ouer s’n).’
Hoe lyk jou houding teenoor geringe werke? Wanneer jy die Here met blydskap dien (sien Psalm 100:2), sal jy vreugde in jou alledaagse take vind, omdat jy onthou vir wie jy werk.
Sielskos: Gen 6:9-8:4; Matt 24:37-51