2025-07-03
Spreuke 12:23 NLV
Iemand anders se behoefte aan inligting behoort jou nie te forseer om te praat nie. Toe ‘n vriend van Jesus sy inhegtenisname wou stopsit, het Jesus gesê: ‘Besef jy nie dat Ek ‘n ganse leërmag engele van my Vader sou kon vra om ons te beskerm en Hy sal hulle oombliklik stuur nie?’ (Matteus 26:53 NLV). Toe Jesus voor Pilatus gebring is, het Pilatus nie die oppermag gehad nie; Jesus het! Tog sê die Bybel Jesus: ‘…het sy mond nie oopgemaak nie’ (Jesaja 53:7 NLV). Hy het daar gestaan en niks gesê nie. Hoekom nie? Omdat Hy nie onder verhoor was nie, maar Pilatus wel. Jesus het sy lotsbestemming geken en belangriker as dit, Hy het sy hemelse Vader intiem geken.
Wanneer jy God ken, kan jy enigiets met selfvertroue in die gesig staar – en vry voel om stil te bly. Soms is dit die wysste ding om te sê: ‘Ek het nie nou die antwoord nie. Ek sal egter daaroor dink, daaroor bid en terugkom na jou toe.’ “‘n Verstandige mens bly stil oor sy kennis. Dwase basuin hulle onkunde uit” (Spreuke 12:23 NLV).
Wanneer mense angstig is vir antwoorde, sal hulle jou onder druk probeer plaas om te praat voor jy al die feite het of ‘n kans gehad het om daaroor te bid en die situasie versigtig te oorweeg. As jy God vra, sal Hy vir jou sê wat om te sê en wanneer om dit te sê. Sy belofte is: ‘Ek het my woorde in jou mond gesit. Ek het jou beskerm met die skadu van my hand…’ (Jesaja 51:16 NLV).
Trots sê: ‘Moenie net daar staan nie, sê iets!’ Wysheid sê: ‘Moenie iets sê nie, staan net daar!’ Vra God vir insig. Een gedagte van God kan die probleem blitsvinnig oplos.
Sielskos: Jer 49-50; Matt 6:19-34; Ps 122; Spr 15:10-14
2025-07-02
Kolossense 3:13 NLV
Dis onmoontlik om enigiemand ten volle lief te hê en terselfdertyd ‘n wrok teen iemand anders te koester. Jy kan nie totale liefde gee as jou hart verdeeld is nie. ‘n Bitter hart is ‘n verdeelde hart. Jy reageer dalk steeds op jou verlede en koester ‘n wrok teen iemand wat jou seergemaak het. Dit weerhou jou daarvan om jou geliefdes ten volle lief te hê. Dit is egter nie regverdig teenoor hulle nie.
Baie mense het geregverdigde redes vir hul woede. Daar word geskat dat een uit elke drie vroue en een uit elke sewe mans gedurende hul leeftyd mishandel sal word. Jy moet egter die verlede agterlaat om met die hede aan te gaan. Om mense lief te hê, moet jy die deur tot die verlede toemaak. Dit kan egter nie sonder vergifnis gebeur nie! Vergewe dus diegene wat jou seergemaak het – om jou eie onthalwe, nie omdat hulle dit verdien nie. Doen dit sodat jou hart weer heel kan word. Die mense in jou verlede kan jou nie meer seermaak nie, tensy jy hulle toelaat om dit te doen deur ‘n wrok teen hulle te koester.
Wanneer jy ‘n wrok teen iemand het, gee jy hulle ‘n deel van jou hart, ‘n deel van jou aandag en ‘n deel van jou gedagtes. Wil jy dit toelaat? Nie? Neem dan daardie dele van jouself terug deur te vergewe. In plaas daarvan om die seer oor en oor te herleef, laat dit gaan. Jy kan egter nie selektief wees oor wat jy vergewe nie: ‘Ek sal die vergewe, maar ek gaan nie dit vergewe nie.’ Die Bybel sê: ‘…as enigeen ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het’ (vers 13 NLV).
Sielskos: Jer 45-48; Matt 6:9-18; Ps 110; Spr 15:8-9
2025-07-01
Lukas 5:4 AFR53
Nadat Petrus heelnag geen vis gevang het nie, het Jesus gesê: ‘…Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang.’ Nadat hy aan Jesus verduidelik het dat die visse nie byt nie, het Petrus gesê: ‘…maar op u woord sal ek die net laat sak’ (vers 5 AFR53). Let hierdie belangrike detail op: Toe Jesus gesê het: ‘laat julle nette sak…’ het Petrus geantwoord: ‘op u woord sal ek die net laat sak.’ Blykbaar het Jesus ‘n groter vangs as Petrus in gedagte gehad! Hulle het inderwaarheid toe so baie vis gevang dat hulle net geskeur het.
Wanneer jy klein dink, berei jy jou daarvolgens voor. Die Skrif beskryf God as volg: ‘…Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra’ (Efesiërs 3:20 NLV). As kind van God, het jy binne jou die krag om verder te gaan as wat jy reeds bereik het en meer te doen as wat jy ooit gedroom het moontlik is.
Wat is egter die probleem? Die volgende: Jy kan die regte hoeveelheid krag hê, maar nie voorbereid daarvoor wees nie! Om die druk wat met sukses gepaard gaan te hanteer, moet jy daarop voorbereid wees; anders kan sukses jou ondergang beteken. God sê Hy is bereid om die vensters van die hemel oop te maak en voorspoed op jou te laat reën (sien Maleagi 3:10 NLV).
Die vraag is: berei jy jouself vir groter seën voor, of is jy met die status quo tevrede? Jy sê jy wil sukses by die werk behaal. Skerp jy dus jou vaardighede op, versterk jou werksetiek en ontwikkel nuwe maniere om dinge te doen? Met ander woorde, berei jy jouself voor?
Sielskos: Jer 41-44; Matt 5:38-6:8; Ps 102:18-28; Spr 15:4-7
2025-06-30
Filippense 2:14 NLV
Paulus skryf: ‘Doen alles sonder kla of teëpraat. Dan sal julle as onberispelike kinders van God bo verdenking staan. Julle sal skoon lewe in ‘n wêreld vol oneerlike en perverse mense. Skyn in hierdie donker wêreld soos helder sterre’ (verse 14-15 NLV). Wat was die houding waarop Paulus gefokus het? Om te mor en te kla. Wat was die oplossing? Hy het dit met die gelowiges in Tessalonisense gedeel: ‘Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle as Christene verwag’ (1 Tessalonisense 5:18 NLV). In plaas daarvan om na dinge te soek om oor te kla, soek na dinge om oor dankbaar te wees, want dit is oral om jou. As murmurering so maklik soos asemhaal vir jou is, is hier ‘n paar areas waaraan jy moet aandag gee:
(1) Moenie meer aanpak as wat jy kan hanteer nie. Sê slegs vir versoeke vir persoonlike gunste ja wanneer jy wil of voel dat jy deur God gelei word. Dit sal keer dat jy oorwerk en gegrief word teenoor die verantwoordelikhede wat ander op jou lê.
2) Beperk jou tyd rondom negatiewe mense. ‘Moenie toelaat dat mense wat sulke dinge sê, julle vir die gek hou nie, want “slegte geselskap bederf goeie gewoontes”‘ (1 Korintiërs 15:33 NLV).
(3) Fokus op ander mense se behoeftes. ‘Doen julle werk entoesiasties, asof julle dit vir die Here doen en nie vir mense nie. Julle weet mos dat die Here elke mens wat sy werk goed doen, sal beloon…’ (Efesiërs 6:7-8 NLV). Wat jy vir ander mense laat gebeur, sal God vir jou laat gebeur.
Benewens hierdie drie strategieë om norsheid te oorkom, bid die volgende: ‘Vader, verlos my van norsheid. Openbaar die oorsaak daarvan en gee my die moed om dit uit my lewe te verwyder. In Jesus se naam. Amen.’
Sielskos: Jer 36:27-40:16; Matt 5:21-37; Ps 102:12-17; Spr 15:3
2025-06-29
1 Korintiërs 10:10 NLV
As jy dink dat God murmurering nie ernstig opneem nie, lees die volgende: ‘En moenie mor soos sommige van hulle nie, want dit is die rede waarom God die doodsengel gestuur het om hulle dood te maak. Al hierdie dinge het met hulle gebeur as ‘n voorbeeld vir ons, en is neergeskryf om ons te waarsku…’ (verse 10-11 NLV). ‘n Gemor en gekla verhinder nie net dat jou gebede beantwoord word nie, maar dit beïnvloed ook jou gesondheid en diegene rondom jou se geluk. Dus:
(1) Bid voor jy met jou dag begin. Ontvang God se hulp heel eerste. Moenie wag tot jy met probleme oorweldig word nie. Vra Hom om jou met sy vrede en vreugde te deurdring en jou in staat te stel om die hele dag op sy manier te reageer. ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ (Nehemia 8:10 NLV)
(2) Kry ‘n goeie nagrus. Baie metaboliese en ander herstellende prosesse vind tydens die verskillende stadiums van slaap plaas. As jy nie genoeg slaap kry om jou stelsel te hernu nie, sal jy waarskynlik deur die kleinste dingetjies geïrriteerd voel. Dawid het gesê: ‘Ek het gaan lê en slaap en weer wakker geword, want die Here het oor my waggehou’ (Psalm 3:6 NLV).
(3) Praat met jou dokter. Wanneer die mense en situasies rondom jou gedurig vir jou soos “‘n pyn in die nek” voel, kan dit as gevolg van ‘n letterlike pyn in jou nek of ‘n ander deel van jou liggaam veroorsaak word. Chemiese wanbalanse kan kliniese depressie veroorsaak, maar die regte mediese hulp kan jou perspektief herstel. Let ook op jou dieet. Te veel kafeïen en suiker sal jou bui nadelig beïnvloed en ‘n styging in jou insulienvlakke veroorsaak. Die fisiese beïnvloed die verstandelike, emosionele en geestelike!
Sielskos: Ps 23; Joh 10:7-18
2025-06-28
Lukas 8:18 NLV
Dit lyk asof sommige mense deur die lewe met ‘n ‘gesluit’ teken op hul voorkoppe gaan. Hulle is as gevolg van vrees, selfsug, gevoelloosheid of omdat hulle besig is, nie oop vir die gedagtes van ander nie. Dit kan jou duur te staan kom. Neem ‘n oomblik en oordink hierdie Skrifgedeeltes: ‘Wie goedbedoelde raad ignoreer, doen skade aan homself. Iemand wat hom laat reghelp, ontwikkel sy insig’ (Spreuke 15:32 NLV). ‘Ek het nagedink oor iets wat ek gesien het. Ek het iets daaruit geleer’ (Spreuke 24:32 NLV). ‘Gee jou raad vir ‘n wyse mens, en hy sal groter wysheid kry. Onderrig ‘n regverdige, en sy kennis sal vermeerder’ (Spreuke 9:9 NLV). Mense wat ontvanklik en toeganklik is, vertoon oor die algemeen drie eienskappe:
(1) Hulle is sensitief vir mense se gevoelens. Alhoewel hulle self emosioneel bestendig is, beteken dit nie dat hulle van ander verwag om altyd so te wees nie. Hulle besef dat goeie mense soms slegte dae het, daarom pas hulle hul benadering volgens ander se gevoelens aan.
(2) Hulle verstaan ander mense se swakhede omdat hulle bewus van hul eie is. Edgar Howe het gesê: ‘Lewer af en toe ‘n gemene opinie oor jouself. Dit sal jou vriende wys dat jy weet hoe om die waarheid te vertel.’ Oop en ontvanklike mense is eerlik oor hul vermoëns – en oor hulle tekortkominge.
(3) Hulle het die vermoë om ander te vergewe en om vergifnis te vra. Dit verg nederigheid. David Augsburger het geskryf: ‘Aangesien niks wat ons beoog ooit foutloos is nie, niks wat ons ooit probeer sonder fout is nie en niks wat ons bereik sonder ‘n mate van feilbaarheid, wat ons menslikheid noem, is nie; word ons deur vergifnis gered.’
Die woord vir jou vandag is dus: Bly oop en toeganklik.
Sielskos: Jer 33:1-36:26; Matt 5:1-20; Ps 102:1-11; Spr 15:1-2