Behou ‘n positiewe ingesteldheid
2023-08-30Spreuke 14:30 NLV
Om ‘n positiewe ingesteldheid te behou is nie altyd maklik nie; dit verg geestelike dissipline. Kom ons wees eerlik, 95 persent van wat ons deesdae op die nuus sien en hoor is negatief van aard. Jy kan nie jou kop in die sand druk nie, maar jy kan jou gedagtes teen die trekkrag van die negatiewe invloede rondom jou beskerm. Dit beteken dat jy deurlopend twee dinge moet doen:
1) Neem die verkeerde gedagtes gevange. ‘Daarmee vernietig ons die argumente, asook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word. Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (2 Korintiërs 10:4-5 NLV). Neem dus jou verkeerde gedagtes gevange; anders sal dit jou gevange neem!
2) Aktiveer die regte gedagtes. ‘…beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is… Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:8-9 NLV).
Die wete dat God in beheer van jou lewe is en jou treë rig, sal jou in staat stel om ‘n goeie ingesteldheid te behou wanneer jy met dinge soos lang rye, slegte weer, moeilike verhoudings, siekte, toetse en teëspoed gekonfronteer word. Jou ingesteldheid affekteer nie net jou lewenskwaliteit nie, maar ook die lengte daarvan. Salomo het gesê: ‘Innerlike kalmte bevorder die gesondheid…’ Mediese navorsing het bewys dat mense met ‘n sterk geloof wat met terminale siekte gediagnoseer word, geneig is om hul prognose en hul voorspelde lewensduur te oorleef. Die woord vir jou vandag is dus – behou ‘n positiewe ingesteldheid.
Sielskos: Klaag 1:1-3:39; Mark 9:14-29; Ps 119:169-176; Spr 19:9-10