Wat lei jou aandag af?
2020-06-23Spreuke 4:27 NLV
Baie van ons misluk, nie omdat ons nie talentvol, gedetermineerd of passievol is nie, maar omdat ons van ons ‘koers afwyk.’ God het vir die profeet Habakuk gesê: ‘…Skryf my antwoord, die visioen, in groot, duidelike letters op kleitablette sodat iemand wat verbyhardloop dit kan lees’ (Habakuk 2:2 NLV). Tensy jy ‘n duidelik gedefinieerde doelwit het en dit ten alle tye voor jou hou, sal jy nie in die regte rigting hardloop nie. Motiveringspreker en skrywer, Sam Horn, het gesê: ‘Dis moeilik om op koers te bly, as ons nie weet wat ons bestemming is nie.’ In sy boek, One Big Thing, skryf Phil Cooke: ‘Ek was nog nooit ‘n aanhanger van die persoon wat die ‘oop deur beleid’ uitgedink het nie. Ja, ons wil toeganklik vir kollegas en werknemers wees, maar op ‘n stadium is dit tyd om die deur toe te maak en aan die werk te spring. Na jou volgende onderbreking, maak ‘n nota van hoe lank dit neem om weer by jou vorige vlak van intensiteit en fokus te kom. Jy sal geskok wees oor hoeveel tyd dit van jou dag steel. Te dikwels geniet ander mense se behoeftes prioriteit bo jou droom. Natuurlik moet ons vir ons kinders sorg, ons eggenote eer en ons primêre verantwoordelikhede rondom ons familie en werk nakom. Die eerste tree om jou droom te vervul, is egter om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar. Dit beteken dat jy dit moet skeduleer en minder belangrike behoeftes van kollegas en vriende moet ‘onskeduleer.’ Hierdie daaglikse verpligtinge beitel ons tyd weg en kort voor lank verdwyn jou droom in die stof. Hou dus op om te doen wat ander mense belangrik ag en begin fokus op dit wat vir jou (en God!), belangrik is.’
Sielskos: Hosea 1-5; Luk 2:8-20; Ps 8; Spr 14:9-12