God en jou geld (5)
2020-05-22Matteus 6:33 DB
Die Bybel leer ons die volgende beginsels oor geld: 1) God wil hê dat jy genoeg geld het om aan die grootte van enige van jou behoeftes, te kan voldoen. Dink daaroor: Werknemers is hoofsaaklik oor een ding besorg – om hulle salaristjeks te kry. Werkgewers, aan die ander kant, het ‘n groter behoefte. Hulle moet genoeg geld hê om almal se salarisse te betaal. Daar is egter goeie nuus vir beide werkgewer en werknemer: ‘…julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra!’ (vers 8 NLV). 2) Baie keer sal God jou na ‘n spesifieke plek of persoon stuur om aan jou behoefte te voldoen. Gedurende ‘n tyd van erge hongersnood toe mense in Israel van honger gesterf het, het God vir die profeet Elia gesê: ‘…Gaan in ‘n oostelike rigting en kruip weg by die Kritspruit… Ek sal die kraaie beveel om vir jou kos te bring’ (1 Konings 17:3-4 NLV). Dit het goed vir ‘n tydjie gewerk, maar ‘Na ‘n tyd het die spruit egter opgedroog, want daar was geen reënval in die opvanggebied nie’ (vers 7 NLV). God het dit so beplan, want Hy sal nooit toelaat dat jy van enigiemand of enigiets anders as Homself afhanklik is nie. Hy sal jou ‘spruit’ laat opdroog om jou sodoende na jou ware bron toe terug te stuur – na Hom toe. God het volgende vir Elia gesê: ‘…Gaan bly in die dorp Sarfat… Daar woon ‘n weduwee. Ek het aan haar opdrag gegee om vir jou te sorg’ (vers 8 NLV). God het onwaarskynlike dinge soos kraaie, ‘n spruit en ‘n arm weduwee gebruik om aan Elia se behoeftes te voldoen. Hou op om God te probeer uitpluis! Vertrou die Een wat ‘…die aarde… aan niks [ophang]’ (Job 26:7 NLV), om wie ook al, wat ook al, waar ook al en wanneer ook al te gebruik om aan jou behoeftes te voldoen.
Sielskos: Heb 9:1-11:16; Mark 10:35-52; Ps 97; Spr 12:1-3