Die behoefte aan bekering
2020-05-152 Korintiërs 7:10 NLV
Daar is ‘n verskil om jou sondes te bely en om jou van jou sondes te bekeer. In die Skrif beteken die woord ‘bekering,’ ‘om weg te draai van sonde.’ Deur jou sonde te bely erken jy wat jy gedoen het; deur jou daarvan te bekeer, draai jy weg daarvan af. Die goeie nuus is dat daar geen beperking op God se vergifnis is nie. Die oomblik wat jy daarvoor vra, ontvang jy dit. God verwag egter dat jy nie jou sondige patrone oor en oor sal herhaal nie. Paulus skryf: ‘Kyk net watter entoesiastiese reaksie die belewenis van hartseer volgens die wil van God by julle meegebring het: die verantwoording, dringendheid om reg te maak…’ (vers 11 NLV). Die doel van goddelike hartseer is om jou meer ywerig te maak om jou gedrag te verander. Wanneer jy sonde in jou lewe toelaat, skend jy jou middelpunt van geregtigheid. ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). Jy is een met Christus! Jy is ‘n vernuwe gees wat in ‘n onveranderde liggaam woon en wanneer jy sonde in jou lewe toelaat, skend dit die absolute kern van wie jy is! Dit sal goddelike hartseer by jou veroorsaak, wat tot bekering lei en jou toelaat om van die sonde af weg te draai. Moenie sê: ‘Dis ‘n gewoonte wat ek nie kan verbreek nie, maar God sal my daarvoor vergewe’. Ja, Hy sal jou vergewe, maar Hy wil nie hê dat jy in ‘n siklus waar jy sondig, dit bely, vergifnis ontvang en dan weer dieselfde sonde herhaal, vasgevang word nie. Hy wil hê dat jy sterk en effektief in sy bediening moet wees. Dis hoekom Hy jou na ‘n hoër vlak geroep het.
Sielskos: Num 32:25-33:56; Mark 9:14-29; Ps 18:1-29; Spr 11:19-21