Wat is jou droom? Wat is jou plan?
2020-05-09Genesis 41:37 NLV
God het vir Josef ‘n droom gegee dat hy eendag in ‘n hoëprofiel leierskapsposisie sou wees. Toe hy egter uiteindelik by farao se paleis aangekom het, het hy nie ingestap en aangekondig: ‘God het vir my gesê dat ek die baas hier rond gaan wees!’ nie. Nee, hy moes daarvoor werk. Daar was ‘n wêreldwye hongersnood op die tyd aan die gang en Josef het vir farao ‘n plan gegee om dit nie net te oorleef nie, maar om as gevolg daarvan te floreer. Let op wat farao oor Josef gesê het: ‘…Wie sal dit beter kan doen as Josef? Hy het sonder twyfel die gees van God’ (vers 39 NLV). Wat is jou droom? En wat is jou plan? Jou droom en jou talente is belangrik, maar langtermynsukses sal nie sonder ‘n plan plaasvind nie. Jou talente mag dalk die aandag van sleutelmense op jou vestig, maar jy sal in staat moet wees om te verduidelik wat jou plan is. ‘n Plan neem jou drome en talente en vergroot hulle deur struktuur aan die konsep te gee. Dit beteken dat jy aan ‘n begroting toegewyd moet wees; dit beteken dat jy konstant aan sekere doelwitte en details moet werk. Josef het vir farao ‘n spesifieke plan met ‘n tydslyn gegee: sewe jaar. Hy het vir hom gesê: ‘Op hierdie manier sal daar genoeg wees om te eet wanneer die sewe jaar van hongersnood aanbreek…’ (Genesis 41:36 NLV). Jy moet dus die volgende doen: Skryf jou plan neer, met spesifieke aksies en spertye om dit te vervul. Sal God jou plan seën? Ja, maar jy moet die regte plan in plek hê, voor Hy dit kan seën.
Sielskos: Num 19-21; Mark 7:24-37; Ps 44:9-16; Spr 11:10-11