Leer om strategies te dink (3)
2020-05-04Psalm 16:7 NLV
Wanneer jy voor ‘n probleem te staan kom wat jou oorweldig, breek dit af in kleiner, hanteerbare dele sodat jy meer effektief op elk van hulle kan fokus. Moenie die hele probleem in jou gedagtes probeer oplos nie; skryf dit neer sodat jy ‘n helderder prentjie kan kry. Een van daardie klein dele mag dalk die sleutel wees wat die deur oopsluit. As jy steeds nie ‘n oplossing kan kry nie, neem dit in gebed na God toe. Die Psalmdigter het gesê: ‘Here, U sal u doel met my bereik, want u troue liefde Here, ken geen einde nie…’ (Psalm 138:8 NLV). As iets vir jou van belang is, is dit van belang vir die God wat lief is vir jou. Bid die volgende: ‘Here, ek gee hierdie probleem aan U oor en gaan nou slaap.’ Wanneer jy dit doen, kan jy die volgende môre wakker word met ‘n wonderlike eenvoudige oplossing tot die oorweldigende probleem wat jy die vorige aand gehad het. Die Psalmdigter het gesê: ‘Ek prys die Here wat my insig gee; ook in die nag is ek daarvan bewus.’ God weet wat jy nie weet nie en gebed gee jou toegang tot sy kennis. Vyf brode en twee vissies in ‘n seuntjie se hand kan nie vyfduisend mense voed nie. Toe hy dit egter in Christus se hande geplaas het, het dit vermenigvuldig en het daar twaalf mandjies vol oorgebly. Strategiese denke werk die beste wanneer God die fondasie van jou strategie is en wanneer jy op sy Woord staan en sy beloftes opeis: ‘Vra My, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nou nog vir jou ‘n geheim, en jy weet niks daarvan nie’ (Jeremia 33:3 NLV). God sal dit deur jou doen, solank as wat jy onthou dat jy dit nie sonder Hom kan doen nie.
Sielskos: Num 7; Mark 6:14-29; Ps 37:8-15; Spr 11:3