Leer om strategies te dink (2)

2020-05-03
Spreuke 13:16 NLV

Deur die tyd te neem om kennis te versamel, sal jy gereed wees vir die geleenthede wat die lewe meebring. As jy nie voorbereid is nie, sal hulle jou verbygaan en na ander mense gaan. God het gesê: ‘My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis…’ (Hosea 4:6 AFR53). Let op: 1) Strategiese denke berei jou vir die toekoms voor. Niemand van ons weet wat môre gaan meebring nie. ‘Moenie te veel praat oor wat môre kan gebeur nie. Jy weet glad nie wat môre gaan oplewer nie’ (Spreuke 27:1 NLV). Die enigste ding wat erger as die onsekerheid van die toekoms is, is wanneer jy geen plan en strategie vir jou lewe het nie. 2) Strategiese denke verminder die kans om foute te maak. Wanneer jy dit nie doen nie, is jy soos ‘n gholfspeler wat die bal slaan, sonder om eers die hou te mik. As jou hou met ‘n paar grade foutief is, kan dit jou bal honderde meters van die teiken af stuur. Strategiese denke bring jou aksies in lyn met jou doelwitte. Hoe meer in lyn jy met jou teiken is, hoe beter is die kanse dat jy in die regte rigting sal gaan. 3) Strategiese denke gee jou invloed by ander mense. Een direkteur het geskerts: ‘Ons maatskappy het ‘n korttermyplan en ‘n langtermynplan. Ons korttermyn plan is om lank genoeg staande te bly sodat ons by ons langtermynplan kan uitkom.’ Dis nie ‘n baie goeie strategie nie en tog is dit dikwels die posisie waarin ons onsself bevind. Die persoon met die plan is die persoon met die mag. Dit maak nie saak by watter aktiwiteit jy betrokke is nie, strategiese denke is noodsaaklik vir sukses. Praat met God daaroor.

Sielskos: Matt 5:9; Rom 12:17-21; Jak 3:17-18; Spr 16:7