Tomas se tweeling
2020-05-01Johannes 20:24 ABA
Die Bybel sê: “Tomas was een van die twaalf dissipels. Die mense het hom ‘Tweeling’ genoem. Hy was nie by die ander dissipels toe Jesus aan hulle verskyn het nie. Hulle het vir Tomas gesê: ‘Ons het die Here gesien.’ Tomas het vir hulle gesê: ‘Nee, ek glo dit nie. Ek sal dit net glo as ek die plekke in sy hande sien waar die spykers was en as ek my vinger daar kan indruk. Ek sal dit net glo as ek my hand kan indruk in die gat in Jesus se sy.’ ‘n Week later was die dissipels weer bymekaar. Tomas was ook by hulle. Die deure was gesluit, maar Jesus het gekom en Hy het tussen hulle gaan staan. Hy het vir hulle gesê: ‘Ek gee vir julle my vrede!’ Toe sê Hy vir Tomas: ‘Kom, druk jou vinger hier in my hande en kyk, en kom druk jou hand in die gat in my sy. Jy moenie ongelowig wees nie, jy moet glo’! Tomas het vir Jesus gesê: ‘U is my Here en my God!'” (verse 24-28 ABA). Die mense het vir Tomas ‘Tweeling’ genoem. Weet jy wie sy tweeling was? Jy! Wie jy ook al is wat vandag hierdie bladsy lees, jy is Tomas se tweeling. Dink daaroor: Hoe dikwels het jy aan God se liefde, sy goedheid, sy genade, sy getrouheid en sy beloftes getwyfel? Wat is dus die oplossing? ‘n Persoonlike ontmoeting met Jesus soos wat Tomas gehad het. Dit gebeur wanneer jy sy Woord lees en ‘n vers vir jou uitstaan en jou laat: ‘My Here en my God!’ uitroep. Dit gebeur wanneer jy soos die Psalmdigter bid: ‘Wees goed vir u dienaar sodat ek mag lewe en u woord gehoorsaam. Maak oop my oë sodat ek die wonders kan sien wat opgeskryf is in u gebooie’ (Psalm 119:17-18 NLV).
Sielskos: Num 3:1-4:33; Mark 5:31-43; Ps 2; Spr 10:30-32