Gifstowwe in die werksplek
2020-03-142 Korintiërs 6:17 NLV
Stop en dink ‘n oomblik na oor al die produkte wat ons eens op ‘n tyd gedink het skadeloos is: asbes, lood, kwik ens. ‘n Generasie later is ons steeds besig om mense te behandel wat asbes geïnstalleer het en die giftige vesels ingeasem het. Met hierdie illustrasie in gedagte, wees bewus van die gifstowwe in die werkplek en moenie besmet word nie. Die Bybel sê: “Daarom: ‘Gaan van hulle af weg en hou julle eenkant, sê die Here, en moenie vat aan wat onrein is nie; dan sal Ek julle ontvang.'” God sê nie dat jy jou eenkant van jou kollegas moet hou nie. Hy sê verseker nie dat jy ‘n geestelik meerderwaardige houding moet inneem nie. Hy sê dat jy op jou hoede moet wees vir giftige houdings, giftige optredes en giftige waardes. Wat is die gifstowwe in jou werksplek? Die algemene gifstowwe is klakouse, skinderbekke, rugstekers en teisteraars. Wanneer hierdie agente oor jou pad kom, moet jy doen wat nodig is om jouself van hulle te distansieer. Net om met hulle geassosieer te word, kan gevaarlik vir jou emosionele en geestelike gesondheid wees. Wees ook op jou hoede vir die gif van werkverslawing, of dit nou die verwagting van jou baas is of self opgelê is. Wees gewillig om die ekstra myl te loop wanneer dit nodig is, maar onderhou duidelike grense tussen jou werk en jou lewe by die huis. Leer om besigheid en plesier te skei. As jy jouself nie toelaat om fisies en geestelik te herstel en vernuwe te word nie, sal jy uitbrand. Gevolglik sal Satan in staat wees om jou aan te val. Die effektiefste teengif is goeie kos. Geestelik gesproke beteken dit dat jy daagliks bid, jou Bybel lees en jou met mede-gelowiges wat jou versterk en bemoedig, omring.
Sielskos: Gen 47-49; Matt 22:34-46; Ps 26; Spr 7:26-27