Lig die beperkinge op jouself
2020-03-13Jesaja 54:3 NLV
Vandag mag God dalk vir jou sê wat Hy vir sy mense, Israel, gesê het: ‘Maak jou woning groter. Span jou tent wyer, en moenie huiwer nie. Maak die tentlyne langer en slaan die penne dieper in. Want jy sal na links en regs uitbrei…’ (verse 2-3 NLV). Die meeste mense bly outomaties binne grense, selfs wanneer hierdie grense willekeurig getrek of baie verouderd is. Onthou, die meeste beperkings waarvoor ons te staan kom, is nie deur ander mense op ons geplaas nie, maar deur onsself. ‘n Gebrek aan kreatiwiteit val dikwels in hierdie kategorie. As jy meer kreatief wil word, moet jy jou grense uitdaag. Een uitvinder sê: ‘Alle menslike ontwikkeling, maak nie saak wat se vorm dit aanneem nie, moet buite die reëls wees; andersins sou ons nooit iets nuuts gedoen het nie.’ Wanneer jy iets wil hê wat jy nie het nie, moet jy gewillig wees om iets te doen wat jy nog nie gedoen het nie. Jy sê: ‘Maar ek het nie sy opvoeding nie,’ of ‘Ek het nie haar talente nie.’ Jy het nie iemand anders se opvoeding of talente nodig nie. Toe God jou gemaak het, het Hy alles wat jy nodig het om jou lewensdoelwit te bereik, in jou geplaas; jy moet dit net ontsluit en aan die werk sit. ‘God sê toe: ‘Laat Ons die mens maak volgens ons beeld, ‘n afbeelding van Ons…’ God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Onderwerp die aarde en heers oor… al die diere op aarde'” (Genesis 1:26-28 NLV). Jy is volgens God se beeld gemaak. Daar is ‘n deel van jou wat soos God is. Jy het goddelike DNA. Jy is in staat om kreatief te wees, so lig die beperkinge op jouself.
Sielskos: Gen 44-46; Matt 22:23-33; Ps 24; Spr 7:24-25