Weet jou vrou dat jy lief is vir haar? (4)
2020-03-11Johannes 13:1 NLV
Kom ons kyk weer hoe Jesus sy dissipels liefgehad het en hoe jy jou vrou moet lief hê. Hy het nooit opgehou om hulle lief te hê nie. Die Bybel sê vir ons dat Jesus ‘…was lief vir sy eie mense wat in die wêreld gewoon het. Hy het hulle enduit liefgehad.’ As die betowering uit jou huwelik verdwyn het en jy voel dat jy nie meer vir jou maat lief is nie, bid die volgende: ‘Vader, die liefde vir my eggenoot is op ‘n laagtepunt. Ek weet u Woord sê dat onfeilbare liefde geduldig, vriendelik, nederig, waardig en nie kort van draad is nie en nie boekhou van die kwaad nie (sien 1 Korintiërs 13:4-5 NLV). Ek bely dat ek boek gehou het van die kwaad en min geduld vir my maat se tekortkominge gehad het. Vergewe my vir my geestelike onvolwassenheid. Ek vra U om my hart te deurdring en my eggenoot deur my lief te hê. Help my om my wrokkigheid te laat gaan en maak ons huwelik ‘n model van hoe U die kerk liefgehad het en Uself daarvoor gegee het. Werk in ons, Here, om te doen wat vir U aanneemlik is (sien Filippense 2:13). Genees en herstel ons verhouding tot u verheerliking. Lei ons om ons liefde te herstel volgens die patroon wat in u Woord gegee word: deur die dinge te onthou wat ons saam gedoen het, om ons mislukkings te bely en om die vuur van liefde wat ons aan die begin gehad het, weer aan te blaas (sien Openbaring 2:5). Net U kan ‘n persoon se hart verander en ek gee my hart en emosies aan U oor. ‘…Bring ons terug en herstel ons, want U is die Here ons God’ (Jeremia 31:18 NLV). In die Naam van Jesus bid ek dit, Amen.’
Sielskos: Gen 40-41; Matt 22:1-14; Ps 27; Spr 7:10-20