Jy moet medelye betoon (3)

2020-02-11
1 Petrus 3:8 NLV

Hoe betoon mens medelye? Jy kan dalk, byvoorbeeld, uitvind hoekom iemand so gestres of depressief is. Wat is in hulle gedagtes en hoe kan jy help? Of miskien is ‘n vriend met ‘n siekte soos hoë bloedruk, diabetes, artritis of kanker gediagnoseer. Wat moet jy doen? Miskien beplan jou broer of nefie ‘n uitspattige troue of het nou net ‘n groot huis in ‘n luukse woonbuurt gekoop. Miskien is ‘n kollega pas bevorder en die ander kollegas is jaloers en gegriefd daaroor. Maar jou broer is opgewonde oor sy troue, jou nefie kan nie wag om in sy nuwe huis in te trek nie en jou kollega kan nie uitgepraat raak oor sy nuwe verantwoordelikhede nie. Raak saam met hulle opgewonde! Miskien het iemand wat jy ken pas ‘n geliefde aan die dood afgestaan en jy weet nie wat om te sê nie. Moenie iets sê nie, wees net daar! Die Bybel sê: ‘As ander blydskap ervaar, juig saam met hulle. As hulle hartseer is, deel dit met hulle’ (Romeine 12:15 NLV). Met ander woorde, as iemand seer het, wees saam met hulle seer en as hulle bly is, wees saam met hulle bly. Dis hoe jy medelye betoon. Ons kom soms hard en onsensitief voor in ‘n poging om heilig te lyk. Paulus het hierdie kwessie as volg aangespreek: ‘Julle is die mense wat God uitgekies het om Syne te wees en wat Hy liefhet. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld’ (Kolossense 3:12 NLV). Sommige van ons moet harder hieraan werk as ander. As kind van die Here kan jy egter nie anders nie. ‘…Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig.’ Dit sluit jou in!

Sielskos: Jes 63-66; Matt 13:36-46; Ps 138; Spr 4:14-17