Jy moet medelye betoon (1)
2020-02-09Lukas 10:33 NLV
Baie woordeboeke definieer medelye as simpatie, jammerte of kommer – almal emosionele reaksies. Die medelye van Jesus oorskrei emosie en word ‘n aksie. Christelike medelye: 1) Herken die behoeftes van ander. ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (Filippense 2:3-4 NLV). Let op dat jy meer van ander as van jouself moet dink. As jy selfgesentreerd is, sal dit tyd neem vir hierdie konsep om in te sink. Let ook op dat jy na ander mense se belange moet omsien. Soms is daardie ander mense in ‘n gemors vasgevang en nie maklik om lief te hê nie. Wat, byvoorbeeld, van die mense in die tronk? Jy sê: ‘Wel, hulle het gekry wat hulle verdien.’ Dit mag dalk die geval wees, maar het jy altyd gekry wat jy verdien, of is jy net nie uitgevang nie? Dink daaroor! Wanneer jy iemand wat siek is of in die tronk is besoek, sê Jesus: ‘…het julle dit vir Mý gedoen’ (Matteus 25:40 NLV). In Lukas 23:43, het Hy medelye aan ‘n veroordeelde krimineel aan die kruis bewys en hom gered. Jy moet nie kies en keur aan wie jy medelye bewys nie! Die Bybel sê: “‘n Mens sou medelye hê met ‘n vriend in nood. Maar julle beskuldig my sonder enige vrees vir die Almagtige” (Job 6:14 NLV). Moeder Teresa het gebid: “Laat my toe dat ek, selfs al is jy onder die onaansienlike kleed van woede, misdaad of kranksinningheid vermom, jou mag herken en sê: ‘Jesus, U wat ly, hoe soet is dit om U te dien.'”
Sielskos: Luk 19:11-26; Ps 36:5-9; Heb 10:19-23