Liefde sonder voorbehoud
2020-02-06Efesiërs 5:2 NLV
In Amerika sal jy soms motors sien met ‘n plakker wat aandui dat hulle kind ‘n ‘erestudent’ by ‘n spesifieke skool is. Terwyl ons almal goed oor die suksesse van ons kinders voel, kan twee potensiële probleme voorkom. Eerstens, is daar die natuurlike irritasie van die ouers wie se kinders sukkel of minder talentvol is. Een ma het ‘n plakker op haar kar geplak wat gelui het: ‘My kind kan jou erestudent opdons.’ ‘n Tweede probleem kom voor wanneer die trots van die familie op die skouers van ‘n onvolwasse kind rus. Jou kind is nie ontwerp om daardie vlak van druk te hanteer nie! Hulle moet weet dat hulle as gevolg van hulle eie unieke waarde geliefd is en aanvaar word. John McKay, die groot voetbalafrigter by die Universiteit van Suid-Kalifornië, het ‘n seun gehad wat ook ‘n suksesvolle voetbalspeler in die universiteit se span was. Toe iemand in ‘n onderhoud vir McKay vra om kommentaar oor sy seun se prestasies te lewer, het hy die volgende gesê: ‘Ja, ek is tevrede dat John Jr ‘n goeie seisoen hierdie jaar gehad het. Hy het hom goed van sy taak gekwyt en ek is trots op hom. Ek sou egter net so trots op hom gewees het indien hy glad nie gespeel het nie.’ Wonderlike antwoord! Sy seun sou nie sy pa se respek verloor as die volgende jaar mislukking en teleurstelling meebring nie, want sy plek in sy pa se hart was veilig en onafhanklik van sy prestasie. Dis die tipe liefde wat jou kinders van jou nodig het. ‘Ja, leef ‘n lewe van liefde. Christus het julle mos ook so liefgehad…’ Christus se liefde word nie op prestasies gebaseer nie; dis onvoorwaardelik, onbreekbaar en nimmereindigend. Joune moet ook so wees!
Sielskos: Jes 45-48; Matt 12:38-50; Ps 120; Spr 3:33-35