Hoe lyk jou huwelik? (2)

2020-02-04
Prediker 9:9 NLV

Drie dinge gebeur in ‘n goeie huwelik: 1) Jy leer jouself ken. Om te groei, moet jy in staat wees om realisties na jouself te kyk en die beste plek om dit te doen, is in ‘n huis gevul met liefde. Dit laat jou toe om eerlik oor jou foute en jou tekortkominge te wees. Dis ‘n veilige plek om te faal. Dit skep ‘n omgewing gevul met begrip en ondersteuning. Die mense die naaste aan ons, vorm ons. Toe Moeder Teresa die Nobelprys vir vrede gewen het, is sy gevra: ‘Wat kan ons doen om wêreldvrede te bevorder?’ Sy het geantwoord: ‘Gaan huis toe en wees lief vir jou familie.’ As jy die wêreld wil verander, moet jy by die huis begin. 2) Jy begin jou karakter ken. ‘n Huis wat om Christus gesentreerd is, help nie net om jou kinders se karakters te vorm nie, maar dit versterk ook joune. Karakter word op die keuses wat jy maak en die gewoontes wat jy kweek, gebou. Omdat jou familie jou primêre omgewing skep, beïnvloed dit daardie keuses en gewoontes. Sterk families moedig ons aan om goeie keuses te maak en die regte dissiplines te ontwikkel. 3) Jy het ‘n veilige hawe. Dit voel of die pas van die lewe daagliks hewiger raak. Om op oorvol paaie te bestuur is stresvol. Die werkplek is veeleisend. Die skoolterrein is ‘n toenemend vyandige omgewing. Waar kan jy skuiling vind? Theodore Roosevelt het gesê: ‘Ek sal eerder met my familie tyd spandeer as met enige van die wêreld se belangrikes.’ Sy huis was ‘n veilige hawe te midde van die lewe se storms – en joune kan ook wees. Die vraag is: Wat doen jy om dit so te maak?

Sielskos: Jes 38-41; Matt 12:15-21; Ps 111; Spr 3:29-30