Hoe lyk jou huwelik? (1)

2020-02-03
Spreuke 18:22 NLV

As jy oor sestig is, is die kans goed dat jy in ‘n era grootgeword het waar jy nie baie geskeide paartjies geken het nie en waar die onderwerp taboe was. Nou word jou kinders in ‘n wêreld groot waar huwelike elke dag misluk. As jy nie wil hê dat jou huwelik een van hulle moet wees nie, moet jy: 1) Leer om jou liefde te wys. Die sielkundige William James sê: ‘Die diepste beginsel in die menslike natuur is die drang om gewaardeer te word.’ As ons nie by die huis gewaardeer voel nie, is daar ‘n goeie kans dat ons glad nie gewaardeer voel nie, want oor die algemeen vervul die wêreld nie daardie begeerte nie. Die beste ding wat jy vir jou eggenoot en jou kinders kan doen, is om hulle te waardeer en hulle lief te hê – nie as gevolg van hulle prestasies nie, maar eenvoudig omdat hulle joune is. 2) Aandag gee. Eerwaarde Theodore Hesburgh, president Emeritus by die Universiteit van Notre Dame, het gesê: ‘Die belangrikste ding wat ‘n pa vir sy kinders kan doen, is om hulle ma lief te hê.’ Dit werk altwee kante toe. Toewyding, nie emosie nie, is wat jou daardeur dra. As jy beplan om net getroud te bly so lank as wat jy voel jy verlief is, kan jy maar net sowel nou tou opgooi. Soos enigiets wat die moeite werd is, benodig ‘n goeie huwelik konstante aandag. 3) Beskerm julle tyd saam. As jy voel dat jy eerder by die werk moet wees wanneer jy saam met jou familie is en andersom, is iets verkeerd. Belê ‘n familievergadering en besluit hoeveel tyd julle saam moet spandeer. As jy daardie tye prioritiseer en beskerm, sal jou huwelik floreer.

Sielskos: Jes 34-37; Matt 12:1-14; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28