Glo God vir jou genesing

2020-02-02
Eksodus 15:26 NLV

Hoekom word elke persoon vir wie gebid word nie gesond nie? God sê nie vir ons nie. Ons weet dat vertwyfeling en ongeloof sy wonderbaarlike krag in ons lewens kan verhinder. Toe Jesus na sy tuisdorp waar die mense Hom die beste geken het teruggekeer het, lees ons: ‘As gevolg van hulle ongeloof het Hy daar maar min wonderwerke verrig’ (Matteus 13:58 NLV). Daar is egter aspekte van genesing wat ons nooit ten volle sal verstaan nie. Paulus skryf: ‘…Trofimus het ek siek in Milete agtergelaat’ (2 Timoteus 4:20 NLV). Hoekom sou Paulus, wat die dooies opgewek het, ‘n siek vriend agtergelaat het in plaas van om te bid en hom te genees? Daar is baie dinge van God wat ons nie weet nie, maar daar is een ding wat ons wel weet: ‘…Ek is die Here wat julle gesond sal hou.’ Omdat Hy gesê het: ‘Ek is die Here, Ek verander nie…’ (Maleagi 3:6 NLV), en ‘Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!’ (Hebreërs 13:8 NLV), kan ons na Hom vir genesing, gebaseer op sy Woord, gaan. Een van die laaste stellings wat Jesus gemaak het voor Hy die aarde verlaat het, was: ‘Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo… Hulle sal siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word’ (Markus 16:17-18 NLV). Glo jy dat God steeds mense vandag genees? As jy doen, gehoorsaam dan hierdie Skrifgedeelte: ‘Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid. En ‘n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan…’ (Jakobus 5:14-15 NLV). Die woord vir jou vandag is: Moenie moed opgee nie – glo God vir jou genesing.

Sielskos: Luk 6:27-36; Eks 23:1-9; Rom 12:14-21