Bid voor die versoeking kom

2020-02-01
Lukas 22:40 NLV

Jy kan jou beste gesig opsit in ‘n poging om ander mense te oortuig dat jy beter doen, maar diep binne-in jou weet jy in watter areas jy die meeste in die versoeking kom en misluk. As jy regtig eerlik met jouself is, is die kans goed dat jy telling in jou gedagtes hou. Ander mense mag jou dalk ‘n A of ‘n B op jou rapport gee, maar jy druip jouself. Wanneer dit te gereeld gebeur, kom jy op die plek waar jy begin dink: ‘Wat is die punt om God om vergifnis te vra? Ek gaan net dieselfde sondes oor en oor pleeg en weer na Hom toe moet teruggaan.’ Daar is egter ‘n oplossing. Jesus het vir sy dissipels gesê: ‘…Hou aan bid dat julle nie in die versoeking beland nie’ (sien Matteus 26:41 NLV). Met ander woorde, bid voor die versoeking kom en jy sal krag kry en bewapen word om dit te hanteer. ‘Maar ek het al daaroor gebid!’ antwoord jy. Bid dan meer! Voor Jesus die storm op die see van Galilea gekalmeer het, het Hy die hele nag in gebed deurgebring. Skakel jou televisie, jou rekenaar, jou selfoon en enige ander afleidings af en spandeer tyd met God. Jy kan ‘n punt in gebed bereik waar jy ‘weet’ dat God jou die krag wat jy nodig het gegee het en dat oorwinning verseker is. Paulus het gesê: ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:16 NLV). Wat het jy nodig sodat jy nie sal misluk nie? God se genade om jou te vergewe – en sy hulp om versoeking teen te staan. Bid dus voor die versoeking kom en God sal jou ‘n oorwinnaar maak.

Sielskos: Jes 30-33; Matt 11:20-30; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26