Moet hulle nie afskryf nie
2020-01-07Jesaja 60:4 NLV
Een van die lesse wat Jesus ons in die gelykenis van die Verlore Seun geleer het, is die volgende: Moenie iemand afskryf nie, maak nie saak hoe sleg dinge in hulle lewens mag wees nie. Ons gooi te gou tou op, omdat: 1) Ons hulle optrede sien. Ons weet egter nie deur watter ervarings hulle gegaan het, wat hulle gemaak het wie hulle is nie. Partykeer tree mense as gevolg van die pyn van wonde en onopgeloste kwessies wat hulle binne-in hulself saamdra, verkeerd op. Soms is hulle woede ‘n masker vir ‘n diepe vrees. Ander kere, tree hulle soos die disfunksionele ouers wat hulle grootgemaak het op, omdat dit die voorbeeld is wat hulle gegee is om mee te werk. Totdat iemand egter nie vir hulle ‘n nuwe en beter manier wys om die lewe te hanteer nie, sal hulle daarin vasgevang bly. 2) Ons weet nie waarmee hulle worstel nie. Moenie laat hulle fasade van sukses jou ‘n rat voor die oë draai nie. Iemand kan in ‘n mooi huis bly, ‘n duur kar na ‘n goeie werk toe bestuur en tog val hulle huwelik uitmekaar, hulle kinders rebelleer en hulle gedagtes maal rond. Hulle het jou deernis nodig. In plaas daarvan om hulle as ‘n verlore saak af te skryf, vra God vir woorde van wysheid. Jesaja het gesê: ‘Die oppermagtige Heer het my geleer sodat ek dié wat moeg is moed kan inpraat. Elke môre maak Hy my wakker en leer my luister soos dit ‘n leerling betaam’ (Jesaja 50:4 NLV). As jy voortdurend vir hulle bid en hulle probeer help, sal God jou ‘n paramedikus van sy genade maak. Die woord vir jou vandag is dus: Moenie hulle afskryf nie – want God het nie!
Sielskos: 1 Kor 15-16; Matt 5:1-12; Ps 10:12-18; Spr 1:17-19