Bid en stel ‘n wag aan

2019-10-07
Nehemia 4:9 DB

God se soewereiniteit onthef ons nie van enige verantwoordelikheid nie. Die teenoorgestelde is waar. Dit bekragtig dit. Wanneer ons God vertrou, dink ons helder en reageer ons meer beslissend, soos Nehemia wat gesê het: ‘Maar ons het aanhoudend tot ons God gebid en dag en nag soldate op die mure laat wag staan.’ Nehemia het twee dinge gedoen. Hy het God vir sukses vertrou en op dit wat God vir hom gesê het om te doen, gereageer. Gebed nooi God uit om dinge te doen wat jy nie kan doen nie. Paulus het geskryf: ‘Moenie ophou bid nie’ (1 Tessalonisense 5:17 NLV). God kom die situasie deur uitnodiging binne. Totdat jy God se leiding soek, is jy aan die genade van jou eie en almal anders se gedagtes, uitgelewer. Hoekom sal jy met menslike kennis tevrede wees wanneer jy bonatuurlike insae kan hê? God het gesê: ‘Vra My, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nou nog vir jou ‘n geheim, en jy weet niks daarvan nie’ (Jeremia 33:3 NLV). Wanneer God dan sy wil aan jou openbaar, moenie talm nie en moenie debatteer nie – doen dit! Voor God vir jou sy volgende stel instruksies gee, wil Hy weet dat jy sy vorige instruksies gehoorsaam het. Hoekom? Omdat Hy jou nie verder as jou laaste daad van ongehoorsaamheid kan seën nie. Stop dus en dink daaroor. As jy die verkeerde ding gedoen het, bely dit, verander jou koers en kom weer so gou as moontlik op die regte pad. “Wat Ek beveel het, was die volgende: ‘Wees aan My gehoorsaam en Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. As julle doen wat Ek sê, sal dit met julle goed gaan'” (Jeremia 7:23 NLV).

Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Joh 2:12-25; Ps 89:1-14; Spr 23:10-14