Vriende in moeilike tye
2019-10-051 Samuel 23:16 NLV
Die eerste swart man wat in die Amerikaanse bofbal liga gespeel het, se naam was Jackie Robinson. Hy het in elke stadion voor beledigings en mishandeling te staan gekom terwyl hy probeer het om deur bofbal se kleurgrens te breek. Een dag in sy tuisstadion in Brooklyn, het hy ‘n fout begaan. Terwyl die skare hom uitgejou het, het Robinson vernederd by die tweede bof gestaan. Sy spanmaat, Pee Wee Reese, het na hom gehardloop, sy arm om hom gesit en saam het hulle die skare aangekyk. Binne sekondes het die toeskouers stil geword. Jare later, toe Robinson vir sy loopbaan vereer is, het hy gesê: ‘Reese se arm om my skouer daardie dag, het my loopbaan gered.’ Jesus het geweet dat Petrus Hom sou verloën, daarom het Hy genade aan Petrus bewys nog voordat dit gebeur het. Hy het vir hom gesê: ‘…As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun’ (Lukas 22:32 NLV). Wanneer God jou herstel, sal jy na ander met sy liefde wil uitreik. Jy sal volgens die Skrif lewe: ‘Versterk die moeë hande van dié wat moeg geword het. Bemoedig dié wie se knieë swak word en knik. Sê vir dié wat bang is: ‘Wees sterk en moenie bang wees nie. Want julle God kom… om julle te red!’ (Jesaja 35:3-4 NLV). Dawid se goeie vriend, Jonatan, ‘…het na hom toe gekom en hom bemoedig om op God te vertrou.’ Wanneer jy verlore voel, het jy ‘n Jonatan nodig. Dis wanneer die ou spreekwoord: ‘In voorspoed ken ons vriende ons, in teenspoed ken ons ons vriende,’ waar word. Hulle is die mense na wie ons in moeilike tye draai. As jy dus dink dat jy ooit so ‘n vriend nodig sal hê, wees een!
Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Joh 2:1-11; Ps 110; Spr 23:6-9