Hoe om weer op te staan (1)

2019-05-01
Miga 7:8 NLV

Ons almal word van tyd tot tyd neerslagtig. Dit kan op die hakke van ‘n groot sukses of oorwinning gebeur. Beraders sê dat daar vir elke hoogtepunt ‘n ooreenkomstige laagtepunt is. Soms word dit veroorsaak wanneer mense ons teleurstel; iemand wat ons vertrou het het ons in die steek gelaat en ons ervaar woede en verwyt. Wanneer ons ons werk verloor, verloor ons nie net ons finansiële sekuriteit nie; soms verloor ons ook ons identiteit en sin van waarde. Die oorsaak van ons neerslagtigheid is dikwels fisies. Wanneer ons nie genoeg rus, ordentlike kos en oefening kry nie, raak ons afgemat. Soms is die oorsaak chemies van aard. Wanneer die brein se chemiese boodskappers, genaamd neurotransmitters, gesond is, is ons ook gesond. Wanneer sommige van daardie transmitters, soos serotonien en dopamien egter afwesig, laag of ongebalanseerd is, sukkel ons en voel uitgeput. In hierdie geval mag medikasie nodig wees om die chemiese wanbalans te korrigeer. Die oorsaak kan ook geestelik wees. Jesus het gesê dat Satan kom om ‘…te steel, dood te maak en te vernietig…’ (Johannes 10:10 NLV). Dis hoekom die Bybel sê: ‘…Vind julle krag in julle verhouding met die Here… Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen… die bose geeste in die hemelruimtes’ (Efesiërs 6:10-12 NLV). Dikwels is geestelike oorlogvoering die wortel van ons probleme, of dit vererger ons probleme. Maak dus elke môre wanneer jy opstaan seker dat jy jou geestelike gevegstoerustig aantrek en dat jy jou krag in jou verhouding met die Here deurgaans deur die dag kry. Dis hoe jy weer opstaan.

Sielskos: Num 19-21; Mark 3:20-35; Ps 37:16-24; Spr 11:4