In watter seisoen is jy?

2019-04-10
2 Timoteus 4:2 NLV

As jy jou saad op die verkeerde tyd saai, loop jy die risiko om jou oes te verloor. Hoekom? Omdat jy nie die seisoen waarin jy is, herken het nie. Is jy in die seisoen van klein begin? As jy is, sê God: ‘Wie minag die dag van oënskynlik klein dingetjies?..’ (Sagaria 4:10 NLV). Die rykheid en stabiliteit wat uit ‘n klein begin en geleidelike sukses kom, is blywender as die temperamentele optrede van diegene wat nooit hulle eie swakhede ontdek het of ‘n ware sin van afhanklikheid aan God ontwikkel het nie. Vra vir God as jy nie seker is in watter seisoen jy is nie. Hy doen alles volgens ‘n gevestigde tyd en doel. In die herfs ploeg jy die grond, saai die saad, strooi kunsmis en kyk dan die volgende lente uit vir die oes. Intussen wag jy, omdat die grond besig is om sy voedingstowwe weer aan te vul om ‘n oes te kan produseer. Die wortelstelsel wat nodig is vir sterk, gesonde groei, is besig om te ontwikkel. Verstaan die volgende: God gee vir jou genade vir die seisoen waarin jy is – nie die een waarin jy was of die een waarin jy graag wil wees nie. Toe Paulus gesê het: ‘…Hou daarmee vol, of die tyd daarvoor geleë is of nie…,’ het hy besef dat hy in die winter van sy bediening was. Dis hoekom hy sy kennis aan sy opvolger, Timoteus, uitgestort het. Paulus het nie die veranderende seisoene weggewens nie. Nee, toe sy tyd as speler tot ‘n einde gekom het, het hy eenvoudig ‘n afrigter geword. Vra dus vir God om jou te wys in watter seisoen jy is en hoe om dit die produktiefste seisoen van jou lewe te maak.

Sielskos: Fil 1-4; Luk 22:14-23; Ps 43; Spr 10:10