Dis tyd om volwasse te word

2019-04-07
Hebreërs 6:1 NLV

Paulus skryf: ‘Mag God self, dié God wat vrede bewerk, julle volkome aan Hom toewy. Mag Hy julle heeltemal – gees, siel en liggaam – onberispelik bewaar tot wanneer ons Here Jesus Christus terugkom. Hy wat julle roep, is getrou. Hy sál dit doen!’ (1 Tessalonisense 5:23-24 NLV). Groei jy in geestelike volwassenheid? Voor jy antwoord, lees hierdie woorde: ‘Volwassenheid is die vermoë om jou woede te beheer en jou verskille sonder geweld of verwyte uit te stryk. Volwassenheid is geduld; dis die gewilligheid om korttermyn plesier vir langtermyn wins prys te gee. Dis die vermoë om ten spyte van hewige teenstand of ontmoedigende terugslae te volhard. Dis die kapasiteit om onplesierigheid en frustrasie sonder om te kla of ineen te stort, te hanteer. Volwassenheid is nederigheid. Dis om groot genoeg te wees om te sê: ‘Ek was verkeerd,’ en wanneer jy reg is, nooit te sê: ‘Ek het jou mos gesê,’ nie. Volwassenheid is die vermoë om ‘n besluit te neem en dit enduit deur te voer, in plaas daarvan om eindelose moontlikhede te verken en niks aan een van hulle te doen nie. Volwassenheid beteken betroubaarheid, die hou van jou woord en om deur ‘n krisis te kom. Die onvolwassenes is verward en ongeorganiseerd. Hulle lewens is ‘n doolhof van gebroke beloftes, voormalige vriende, onvoltooide besighed en goeie intensies. Volwassenheid is die kuns om vrede te hê met dit wat jy nie kan verander nie, om die moed te hê om dit te verander wat jy kan en die wysheid om die verskil tussen die twee te ken.’ Die woord vir jou vandag is dus: Dis tyd om geestelik volwasse te word.

Sielskos: 2 Kon 5:1-27; Matt 6:19-34; Hand 5:1-11