Wat is jou doelwitte?

2019-04-06
Filippense 3:14 DB

Een dag het die Hooggeregshofregter Oliver Wendell Holmes sy treinkaartjie verloor. Soos hy daarna gesoek het, het die kondukteur gesê: ‘Toemaar, u Edele, pos dit net vir ons. Ons almal ken en vertrou U.’ Holmes het geantwoord: ‘Ek is nie so bekommerd oor die verlore kaartjie nie – ek wil net weet waarheen ek op pad is!’ Doelwitte laat jou weet waarheen jy in jou lewe op pad is. Vyftig persent van die mense rondom jou het geen idee waarheen hulle op pad is nie. Veertig persent sal in enige rigting gaan waarin hulle gelei word. Die oorblywende tien persent weet waarheen hulle graag sal wil gaan – maar minder as die helfte van hulle is bereid om die prys te betaal om daar te kom. Die visie van die opstanding en ‘n kerk wat eendag die wêreld sou verander is wat Jesus in staat gestel het om die skande van die kruis te verduur (sien Hebreërs 12:2). Moses het die gemak van die farao se paleis prysgegee omdat hy ‘n visie van die Beloofde Land gehad het (sien Hebreërs 11:24-27). Die winkeleienaar J.C. Penney het gesê: ‘Gee my ‘n winkelklerk met ‘n visie en ek sal jou iemand gee wat geskiedenis sal maak. Aan die ander kant, gee my iemand sonder ‘n doelwit en ek sal vir jou ‘n winkelklerk gee.’ Die waarheid is dat terwyl jy aan jou doelwitte werk, werk jou doelwitte aan jou. Die beloning wat jy ontvang wanneer jy hulle behaal, is nie naastenby so belangrik as dit wat jy word terwyl jy hulle nastreef nie. Het jy doelwitte? Is hulle duidelik genoeg om neer te skryf, kort genoeg om in ‘n paragraaf te pas, sterk genoeg om jou te laat volhard en waardevol genoeg om jou die prys te laat betaal? Dan sal jy lewe om hulle te vervul.

Sielskos: Lev 21:1-23:25; Luk 21-25-28; Ps 50:1-15; Spr 10:3