Die evangelie is opwindend

2019-04-03
Romeine 1:16 ABA

Een Sondag het ‘n dame in die kerk aan die slaap geraak. Die pastoor het na die man langs haar gewys en gesê: ‘Maak asb daardie dame wakker.’ Die man het geantwoord: ‘Jammer pastoor. Jy het haar aan die slaap gepraat – jy kan haar wakker maak!’ Paulus sê vir ons: ‘…Die Goeie Boodskap is God se krag, dit red almal wat glo…’ Die Griekse woord vir ‘krag’ is dynamis, waarvan ons die woord dinamiet kry. Praat van impak! Die evangelie verander mense heeltemal. Chuck Swindoll sê: ‘Die evangelie is soos ‘n swaard wat op die klip van die Skrif geslyp is en in die vuur van realiteit, toepaslikheid en behoefte getemper is. Van al die reaksies wat ‘n persoon daarop kan hê, kan ek aan niks ergers as ‘n gaap, ‘n slaperige ‘wat daarvan,’ of ‘n verveelde ‘wie gee om,’ dink nie. Jesus se Woord het rou senuwees aangeraak. Hy het skynheiligheid en vooroordeel aangeval. Hy het mense waar hulle was, ontmoet, nie waar hulle behoort te wees nie. Woedende jong mans, blinde bedelaars, trotse politici, prostitute, onkundige vissermanne, naakte slagoffers van demone en ouers wat rou – Hy het by hulle almal aanklank gevind. Sy vyande het Hom nie verstaan nie, maar hulle kon Hom nie ignoreer nie. Hulle het Hom gehaat, maar hulle was nooit verveeld by Hom nie. Jy faal die Here wanneer jy die evangelie gebruik om mense te verveel! Die evangelie is nie ‘n vae godsdienstige konsep nie; dis ‘n opwindende verhouding met God wat in jou alledaagse lewe werk.’ Die mense rondom jou het dit ook nodig, deel dit dus met hulle.

Sielskos: Lev 13:38-14:57; Luk 21:1-7; Ps 25:1-7; Spr 9:17-18