Begin God daarvoor dank

2019-04-02
Josua 1:11 NLV

Wanneer God sê dat Hy iets vir jou ‘gegee’ het, beteken dit dat jou naam op die titelakte is. Wanneer Hy vir jou sê om dit ‘in besit te neem,’ beteken dit dat jy dalk daarvoor sal moet baklei. As jy dit nie doen nie, sal jy nie ontvang wat Hy jou belowe het nie. Op hierdie oomblik mag baie mense in jou ‘droom huis’ bly en in jou ‘droom beroep’ werk. Moet hulle nie kwalik neem nie, verbly jou! God kan dieselfde vir jou doen! As jy moeg is om oor die dinge te praat wat jy nie het nie, staan op en begin dit najaag. Wanneer jy dit egter kry, moet jy onthou dat dit nie gebeur het omdat jy so wys en wonderlik is nie, maar omdat God dit vir jou gegee het (sien Deuteronomium 8:18). Die Bybel sê dat Hy ‘…ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe…’ (2 Petrus 1:3 NLV). Jy moet egter eers hierdie belofte innerlik aanneem, voordat jy dit uiterlik kan begin ervaar. Jou uitdaging kan byvoorbeeld wees om in jou gees te glo dat jy genees is, voordat jy dit fisies begin ervaar. Wanneer ons byvoorbeeld God vir ‘n eikeboom vra, gee Hy vir ons ‘n akker. Op daardie oomblik mag ons dink dat God nie ons gebed gehoor en beantwoord het nie. Nee, die eikeboom is in die akker; dis net ‘n kwessie van tyd voordat dit wat binne is na buite uitbars. Die sade van dit wat God aan jou beloof het, is reeds binne jou. Gee hulle water, versorg hulle en laat niemand toe om hulle deur ongeloof te ontwortel nie. Begin God met ander woorde dank vir wat Hy in jou lewe gaan doen.

Sielskos: Lev 11:1-13:37; Luk 20:41-47; Ps 32; Spr 9:10-16