Hy laat alles ten goede uitwerk

2019-04-01
Romeine 8:28 NLV

Paulus begin hierdie vers deur te sê: ‘En ons weet…’ Daar is soveel dinge in die lewe wat ons nie weet nie. Ons weet nie wat die ekonomie gaan doen of hoe ons kinders gaan uitdraai nie. Ons weet nie eers ‘…wat en hoe ons moet bid nie…’ (vers 26 NLV). Ons kan egter die volgende vier dinge weet: 1) God werk. Selfs al kan jy Hom nie sien nie, is Hy agter die skerms besig. Hy werk onophoudelik en sonder om moeg te word. 2) God werk ten goede. Nie vir ons gemak, plesier of vermaak nie, maar sodat dinge vir ons ten goede sal uitwerk. Hy is immers wonderbaarlik goed, so hoekom sal jy minder van Hom verwag? 3) Hy werk ten goede vir die wat Hom liefhet. Wat ‘n voordeel deur ‘n liefdevolle God! Maak sy verhaal jou verhaal en jou verhaal sal ‘n gelukkige einde hê. 4) God werk met alles. God werk nie net met ‘n paar dinge, of die goeie dinge, of die beste dinge, of die maklike dinge nie. Hy werk met alles. Hy maak ook nie die plan op soos Hy vorder nie. Die Bybel sê: ‘…Ons was vooraf daartoe bestem! Dit was God se doel! Hy het alles laat uitwerk soos Hy dit beplan en wou gehad het’ (Efesiërs 1:11 NLV). Die beste deel is dat God se plan jou insluit! Hou dus op knies, stres en slaap verloor. Gee dit aan God oor en glo dat Hy alles ten goede vir jou en vir sy heerlikheid sal laat uitwerk.

Sielskos: Lev 8-10; Luk 20:34-40; Ps 72:12-20; Spr 9:7-9