Die gevare van ‘superouerskap’

2019-03-31
Spreuke 23:24-25 NLV

Jou doelwit as ouer moenie wees om perfekte kinders groot te maak nie, maar om aan hulle die wysheid te gee wat nodig is om suksesvol te kan leef. Dit kan twee uitdagings veroorsaak: ouerlike verwaarlosing of ouerlike obsessie. Die tweede een kom voor by ouers wat obsessief oor hulle kinders is en geen tyd vir ontspanning, romanse of rus laat nie. Hierdie mense sal nie eers Moeder Teresa as ‘n kinderoppasser oorweeg nie! Die beweegredes van obsessiewe ouers mag dalk goed wees, maar hulle beheptheid kan tot drie ernstige probleme lei: 1) Hulle maak hulle kinders die spil waarom alles draai, wat nie in die kinders se beste belang is nie. As jy jou kinders die middelpunt van die heelal maak, wag ‘n groot skok op hulle wanneer hulle die regte wêreld betree. 2) Emosionele en fisiese moegheid lei tot ‘ouerlike uitbranding.’ Net soos ‘n battery nie aanhoudend gedreineer kan word nie, het jy tyd nodig om fisies, emosioneel en geestelik te herlaai. Wanneer jy dit nie doen nie, voel almal om jou die negatiewe effek daarvan. 3) ‘Superouerskap’ kan vernietigend in ‘n huwelik wees, veral wanneer die ma die een is wat daartoe neig. ‘n Pa kan sy kinders begin verwyt omdat hulle sy vrou van hom af wegneem, of die vrou mag dalk dink dat haar man selfsugtig is omdat hy nie so toegewyd soos sy aan hulle kinders is nie. In beide gevalle word ‘n wig tussen hulle ingedryf, wat die familie uiteindelik kan vernietig. Matigheid of balans, is die sleutel tot ‘n gesonde en gelukkige familielewe.

Sielskos: 1 Kor 9:24-27; Num 6:1-8; Spr 25:28