Wie is jou ‘Jona’?
2019-03-12Jona 1:12 NLV
Toe Jona op ‘n skip geklim het wat in die teenoorgestelde rigting van God se wil gevaar het, het die bemanning ontdek dat daar ‘n hoë prys te betaal is wanneer jy die verkeerde persoon in jou lewe toelaat. God het jou nie die magtiging gegee om iemand anders se lewensondersteuningstelsel te wees nie. Veral as hulle besig is om van Hom weg te hardloop en jou gebruik om dit te doen! Met Jesus aan boord kan jy dit deur enige storm maak. Wanneer jy egter vir Jona aan boord toelaat, sal hy jou lewe omkeer en jy sal die risiko loop om alles te verloor. Dink jy regtig dat jy jou ‘Jona’ kan regruk? Nee. ‘Toe stuur die Here ‘n groot vis om Jona in te sluk…’ (Jona 1:17 NLV). Soms is die beste ding wat jy vir iemand kan doen om hom oor boord te gooi. So lank as wat jy aanhou om hom te red, staan jy in God se pad. Kyk na Jona – terwyl die bemanning desperaat besig was om goed oor boord te gooi, was hy besig om te slaap! Hy wou nie reggehelp word nie, hy wou gemaklik wees! Ken jy so iemand? Die rede hoekom hulle nie verander nie, is omdat hulle nie gereed is om te verander nie! Jona was so hardkoppig dat hy drie dae in die vis se maag deurgebring het, voor hy begin bid het. As dit jy was, sou jy die oomblik wat jy die vis gesien het begin bid het, nie waar nie? Dit mag dalk moeilik wees om aan te hoor, maar soms is die beste ding wat jy vir jou ‘Jona’ – en jouself – kan doen, om hulle oor boord te gooi en God hulle te laat red.
Sielskos: Job 5-7; Luk 16:19-31; Ps 26; Spr 7:26-27