Vra God vir ‘n droom (1)

2019-01-01
Genesis 42:9 NLV

Die droom wat God vir Josef gegee het, het hom deur ervarings wat die meeste van ons sou verpletter het, gedra. Hy is deur sy familie verkwalik, herhaaldelik deur sy baas se vrou versoek en is toe vir dertien jaar in die tronk gegooi vir ‘n misdaad wat hy nie gepleeg het nie. Tog was God by hom. Toe hy op sy laagste punt was, het Hy elke tree gerig en het hom vir sy roeping as die redder van sy mense geposisioneer. Die Psalmdigter vertel van die vreemde manier waarop God vir Josef gelei het: ‘Hy het iemand vooruitgestuur: Josef, wat verkoop is as slaaf. Sy voete het hulle in boeie gedwing, en sy nek in ‘n ysterhalsband gesit tot sy woorde waar geword het, en die Here se woorde bevestig is’ (Psalm 105:17-19 NLV). Jou geslag of jou ouderdom is nie vir Hom ‘n probleem nie. Die samelewing mag dalk die jeug romantiseer en ouer mense eenkant toe skuif, maar jou seisoen in die lewe beperk God nie. Om egter vertroue te hê dat God jou drome sal vervul, moet jy weet dat jy uit sy Gees gebore is: ‘Dit is waarom die mense wat deur hulle sondige natuur beheer word, God nooit gelukkig maak nie’ (Romeine 8:8 NLV). Jou droom kan nie uit jou ego, of ‘n selfsugtige begeerte om dieselfde vlak van sukses as iemand anders te hê, of jou behoefte om iets aan iemand soos jou gewese man/vrou, jou familie, jou baas, of jou vriende te bewys, gebore word nie. Maak seker wat die bron van jou droom is, want wanneer God die bron is, sal Hy al die hulpbronne voorsien wat nodig is om jou droom te vervul. Het jy ‘n droom? Nie? Vra God om jou een te gee!

Sielskos: Rom 13:12-14:19; Joh 1:1-14