Wanneer jy teenstand kry
2018-12-10Hebreërs 12:3 NLV
Jy gaan gereeld teenstand in jou lewe kry. Voor jy egter moedeloos word en tou opgooi, kyk weer na Jesus se lewe. Alhoewel Hy op alle maniere perfek was, is Hy deurlopend gekritiseer. Sy vyande het Hom ‘n ‘…vraat en ‘n dronklap…’ (Matteus 11:19 NLV) genoem. Hulle het Hom selfs daarvan beskuldig dat Hy van ‘n demoon besete was (sien Johannes 8:48). Tog het Hy nooit toegelaat dat bitterheid of ontmoediging Hom onderkry nie. Vir Hom was elke struikelblok ‘n geleentheid om genade en durf te bewys. Sy hart is deur diegene wat Hy liefgehad het gebreek, tog het Hy ander mense verstaan en hulle getroos. Hy het siekte as ‘n geleentheid om mense gesond te maak; haat as ‘n geleentheid om sy vyande lief te hê; versoeking as ‘n geleentheid om die vleeslike begeertes waarmee ons almal sukkel te oorkom; en oortreding as ‘n geleentheid vir vergifnis gesien. Hy het deur die lewe gegaan en toetse in seges verander – en Hy is ons voorbeeld. Die Bybel sê, ‘Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Laat dit julle inspireer om nie uit te sak en tou op te gooi nie.’ Tel jou Bybel op en lees weer sy lesse. In sy beroemde Bergrede, het Jesus gesê: ‘Julle ken ook die ou opvatting: ‘Wees lief vir jou naaste. Haat jou vyand.’ Wel, dit is nie waar nie. Ek sê vandag vir julle dat julle ook julle vyande moet liefhê. Bid vir almal wat julle swaar laat kry en julle vervolg… As julle ook vol liefde en respek optree teenoor almal met wie julle te doen kry, doen julle presies wat die wet van julle vra…’ (Matteus 5:43-48 DB). Dis hoe Jesus gelewe het – en dis hoe Hy wil hê dat jy ook moet lewe.
Sielskos: Gen 42-43; Joh 18:19-40; Ps 148:1-6; Pred 5:1-3