Dis ‘n interne belewenis (3)
2018-12-03Johannes 14:16 NLV
Daar is baie voordele daaraan verbonde om die Heilige Gees te ontvang. In die Nuwe Testament het Jesus vir sy dissipels gesê, ‘En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees.’ Die Griekse oorspring van die woord ‘Raadgewer’ is Paracletos, wat iemand beteken wat langs jou kom om jou te versterk, aan te moedig en jou raad te gee. Dink daaroor. Wanneer jy moedeloos, verward en magteloos voel, het jy toegang tot ‘n wyse, deernisvolle, bevoegde helper wat jou sal ondersteun en jou van dit wat jy nodig het, sal voorsien. In plaas daarvan om te sukkel om dit alleen te probeer doen, leer om op Hom te steun, vertrou op sy krag en vra Hom om sy magtige werk in jou te doen. Hier is nog ‘n seëning van die Heilige Gees. Paulus sê vir ons, ‘Julle moet julle lewe deur die Heilige Gees laat beheer. Laat Hy aan die stuur staan van alles wat julle dink en doen en sê. Dan sal die sonde julle nooit onderkry nie’ (Galasiërs 5:16 DB). Die stryd tussen Gees en vlees is aanhoudend. Hoe goed ons dit ookal bedoel, ons vleeslike natuur kan nooit deur menslike denke onderdruk word nie; dit produseer net nederlae en ontmoediging. Nog ‘n voordeel van die inwonende Gees is dat jy vir ‘n Gees-gerigte lewenstyl kwalifiseer. Die Bybel sê, ‘Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders’ (Romeine 8:14 NLV). Om te bid en jou beste raaiskoot te neem is nie God se manier nie. Die Heilige Gees se leiding – nie jou raaiskote nie – moet jou lewe rig.
Sielskos: Gen 28:1-30:24; Joh 15:5-17; Ps 14; Spr 31:22-24