Dis ‘n interne belewenis (2)

2018-12-02
Johannes 16:7 NLV

Selfs toe die dissipels se harte seer was oor Jesus se vertrek, het Hy hulle verseker dat dit tot hulle voordeel was, omdat dit ‘n nuwe era van mag en outoriteit aan hulle sou bekendmaak (sien Johannes 14:12). Dit was nie die einde nie, maar ‘n voortsetting van Christus se bediening, soos die Heilige Gees die aflosstokkie uit die Seun se hand geneem het en dit in hulle hande geplaas het. Die Seun sou weggaan, maar die Gees sou ‘…vir altyd by [hulle] wees…’ (Johannes 14:16 NLV). Dit was hulle ‘voordeel’. Die Gees sou hulle menslike liggame binnegaan en permanent in hulle woon! Dis God se Gees wat ons as sy permanente woonplek kies. Het jy al ooit nagedink oor die ‘voordeel’ wat dit vir jou beteken? Jy mag dalk byvoorbeeld môre wakker word en gestres, moeg en geïrriteerd voel en hierdie gevoelens kan maklik jou dag dikteer. Omdat die Gees egter in jou woon, hoef hierdie dinge jou nie te beheer nie. Paulus skryf, ‘Of verstaan julle nie dat julle liggame ‘n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon… nie?..’ (1 Korintiërs 6:19 NLV). Sodra jy daardie belofte deur geloof aanneem, word jy God se tempel. Jy kan by die werk wees, jou kinders skool toe vat, met die hond stap, wag vir die biopsie se resultate, of die begrafnis van jou beste vriend bywoon en God se Gees sal elke sekonde saam met jou wees. Kan jy nou sien hoekom Jesus vir sy dissipels gesê het dat dit goed is dat Hy weggaan en vir hulle die Heilige Gees stuur? Wat jy ookal doen, moenie dat hierdie lewensveranderende waarheid by jou verbygaan nie!

Sielskos: Luk 10:38-42; Joh 11:1-44; Joh 12:1-3