Josef se drie kledingstukke (1)
2018-11-03Genesis 37:3 NLV
Kom ons kyk na die drie verskillende kledingstukke wat Josef gedra het, soos dit jou lewe as Christen verteenwoordig. Eerstens, die kleed van verlossing. Let op, dit was ‘n ‘geskenk’ van sy pa; Josef het nooit ‘n sent daarvoor betaal, of ‘n enkele steek daarvan gestik; of ‘n sentimeter materiaal daarvoor verskaf nie. Dis die verhaal van ons verlossing, nie waar nie? Die Bybel sê, ‘Dit is mos dié onverdiende goedheid wat julle gered het toe julle tot geloof gekom het. En julle geloof kom nie uit julleself nie, maar is ‘n gawe van God. Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie’ (Efesiërs 2:8-9 NV). Gemotiveer deur jaloesie en wrokkigheid, het Josef se broers hom in ‘n put gegooi en sy kleed in ‘n bok se bloed gedoop om hulle pa te oortuig dat hy deur ‘n wilde dier opgeëet is. Kry jy die prentjie? ‘…die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van alle sonde’ (1 Johannes 1:7 NLV). In die Ou Testament se tyd, wanneer iemand gesondig het, het hulle ‘n offerlam na die altaar toe gebring waar die priester die lam se bloed as betaling van hulle sondes geoffer het. Die priester het egter nie die persoon ondersoek nie, hy het die lam ondersoek. As die lam ‘waardig’ was, is die persoon aanvaar en is daar vir hulle sondes boete gedoen. Die oomblik wat jy dus jou sonde bely en bid, ‘Vader, ek kom na U in die naam van Jesus, die Lam van God,’ is jy heeltemal vergewe en aanvaarbaar. ‘Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:16 NLV).
Sielskos: Jes 38-41; Joh 7:45-53; Ps 9; Spr 28:13-16