Waar jy gaan, daar is God
2018-10-09Eksodus 3:5 NLV
Joodse geleerdes het gereeld gedebatteer oor die rede waarom God Homself aan Moses in die middel van die woestyn geopenbaar het. Hoekom nie by ‘n besige of godsdienstig betekenisvolle plek nie? Die konsensus was dat God wou wys dat geen plek op aarde, nie eens ‘n doringbos, van God se teenwoordigheid beroof is nie. Pastoor A.W. Tozer het geskryf: ‘God is bo, maar Hy is nie opgedruk nie. Hy is onder, maar Hy is nie afgedruk nie. Hy is buite, maar Hy is nie uitgesluit nie. Hy is binne, maar Hy is nie beperk nie.’ Die beste daarvan is: ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). Vandag woon God in jou, werk deur jou en gee aan jou die begeerte om dinge te doen wat Hom behaag. Hier is ‘n interessante gedagte: Omdat God binne-in jou woon, moet jy nêrens heen gaan waar Hy nie sal wil gaan nie, of jouself in situasies bevind waar Hy Hom nie sal wil bevind nie. Wanneer dit verkeerd voel om by ‘n sekere persoon of in ‘n sekere plek te wees, gee aandag daaraan. Dit mag dalk die Heilige Gees wees wat vir jou sê dat jy nie daar hoort nie en dat jy nie veronderstel is om dit te doen nie. Beteken dit dat God eng is? Nee; Hy wil net die beste vir jou hê, daarom beskerm Hy jou sodat jy niks oorkom nie. Die Bybel sê, “‘n Son en skild is die Here God… Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie” (Psalm 84:12 NLV). Waar jy vandag ook al gaan, onthou dat God daar is!
Sielskos: Eks 7-9; Joh 1:14-28; Ps 92; Spr 26:1-3