Moenie dit probeer forseer nie!

2018-10-05
Prediker 3:11 NLV

Die lewe gaan dikwels nie volgens plan nie. ‘n Bevordering gebeur nie op die regte tyd nie en jou planne vir jou beroep moet verander, of ‘n verhouding sneuwel en jy spandeer elke sekonde van elke dag om te probeer uitwerk wat verkeerd gegaan het. Die geheim tot ware vrede is om te verstaan dat jy nie die volle omvang van God se werk kan verstaan nie en te aanvaar dat Hy dinge op sy eie tyd doen. Het jy al ooit die voordeur probeer oopsluit, met ‘n magdom pakkies in jou hande terwyl die foon binne lui? Dis die regte sleutel, maar dit wil nie werk nie omdat jy dit probeer forseer. Sodra jy ontspan, sluit die deur sonder enige probleme oop. ‘n Berader sê, ‘Hou op om so hard te probeer. Jy saboteer jouself. Sodra jy besluit dat ‘n situasie goed of sleg is, plaas jy jouself in ‘n posisie waar jy iets daaraan moet doen. Byvoorbeeld, as iemand ‘goed’ is, begin jy jouself met daardie persoon vergelyk: Is ek beter of slegter? Hoe kan ek verbeter? Ons is uitgeput nog voor ons begin het. Wanneer die pad opdraande is – loop die heuwel uit! Wanneer jy by ‘n struikelblok kom – loop om dit! Aanvaar die pad voor jou. Die Bybel sê ‘…elke ding het sy tyd en plek…’ (Prediker 8:6 NLV). Miskien moet iets eers gebeur. Of miskien is daar ‘n belangrike les wat God wil hê jy moet leer wat jy egter probeer vermy. Of miskien is die tyd net nie reg daarvoor nie. Hou op om so hard te probeer om dinge op jou tyd te laat geskied. Doen wat jy kan in vrede, gee die res aan God oor en sien hoe die ‘onmoontlike’ in plek val.

Sielskos: 1 Kor 15-16; Luk 24:36-44; Ps 60; Spr 25:21-22