Hoe om vrees te oorkom (3)
2018-08-07Galasiërs 6:9 NLV
Moenie toelaat dat dit wat jy nie kan doen nie met dit wat jy kan doen, inmeng nie. Die boksbestuurder Cus D’Amato, het gesê: ‘Die held en die lafaard voel altwee dieselfde vrees, maar die held gebruik sy vrees en projekteer dit op sy opponent, terwyl die lafaard weghardloop. Dit is dieselfde vrees; dis wat jy daarmee doen wat saak maak.’ Die meeste negatiewe emosies kan in iets positiefs omskep word om ons lewens te bevorder. Is jy bang vir armoede? Omskep dit in ‘n goeie werksetiek. Is jy bang vir gierigheid? Omskep dit in vrygewigheid. Is jy bang vir verwerping? Omskep dit in die vermoë om met mense te skakel. Soos die ekonoom Roger Babson opgemerk het, ‘As dinge verkeerd loop, moenie saam met hulle loop nie.’ Soek eerder ‘n nuwe manier om dit te doen. Jy kan jou lewe omswaai deur die ding te neem wat eens op ‘n tyd vrees geskep het en daardie energie te gebruik om iets waardevols te doen. Die skrywer Harold Stephens het gesê, ‘Daar is ‘n groot verskil tussen bekommernis en besorgdheid. ‘n Bekommerde persoon sien ‘n probleem; ‘n besorgde persoon los ‘n probleem op.’ Hoe kan jy iemand word wat probleme oplos? Deur op die dinge wat jy kan beheer te fokus. Die eerste daarvan is jou houding. Onthou, wat met jou gebeur is nie naastenby so belangrik soos wat in jou gebeur nie. Die tweede is jou kalender. Jy mag dalk nie vandag se omstandighede kan beheer nie, maar jy kan jou bes doen om die tyd wat jy het, te beplan. Die meeste van ons vrees die toekoms omdat ons nie daarvoor voorberei nie.
Sielskos: 1 Kro 3:1-4:23; Luk 11:29-44; Ps 78:65-72; Spr 20:11-14