‘n Geskenk, eerder as ‘n verskoning
2018-07-06Genesis 33:8 NLV
Hier is iets wat jy moet weet om vorentoe te kan beweeg. Die persoon wat jou seergemaak het, mag dalk nooit ‘n verskoning op die manier wat jy dit wil hê, aanbied nie. Na Jakob sy broer Esau uit sy geboortereg gekul het, het dinge tussen hulle so sleg geword dat Jakob by sy oom Laban in Haran gaan woon het. Later, toe albei broers ryk en suksesvol in hulle eie reg was, het Jakob probeer om met sy broer te versoen. Eers het Esau geweier om sy broer se geskenke te aanvaar, maar toe Jakob aangehou het, het ‘…Esau dit uiteindelik aanvaar…’ (vers 11 NLV). Let op, Jakob het nooit gesê, ‘Ek is jammer dat ek jou geboortereg gesteel het nie; vergewe my asseblief’ nie. Basies het hy gesê, ‘Ek sal graag wil vergoed vir my dade.’ Op hierdie punt het Esau ware volwassenheid bewys deur sy verhouding met sy broer hoër te ag as sy reg om weerwraak te neem. Daar is ‘n les hieruit te leer. God wil hê dat jy moet groot word en geestelike volwassenheid moet uitoefen. Jy kan nie beheer wat ander mense doen nie; jy kan net jou reaksie daarop beheer. As jy verder daarop aandring dat iemand jou op ‘n sekere manier verskoning moet vra, sal die verhouding dalk nooit herstel nie. Om aan ‘n wrok vas te hou is soos om aan ‘n brandende kool vas te hou; dit sal jou aanhou brand totdat jy dit laat gaan. Jy wil byvoorbeeld hê dat jou man vir sy gedrag moet om verskoning vra. As hy egter eerder vir jou ‘n geskenk koop of iets moois vir jou doen, reageer met grasie, eerder as om sy metodes en motiewe te oordeel. Sluit met ander woorde die rekening en beweeg vorentoe.
Sielskos: 1 Sam 18:1-20:29; Luk 5:1-11; Ps 102:12-17; Spr 17:7-10