Verwelkom die toets (1)
2018-05-16Genesis 22:1 NLV
Die Bybel sê: “Na ‘n tyd wou God Abraham se geloof en gehoorsaamheid toets… God sê vir hom: ‘Neem jou seun, jou enigste seun, ja, vir Isak wat jy so liefhet, en gaan na die land Moria. Offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal wys’… Daarna het [Abraham] vertrek na die plek wat God vir hom aangedui het” (verse 1-3 NLV). Jy vra, “Hoekom sal God my toets?” Eerstens, om te bewys dat Hy aan jou getrou is. Tweedens, om jou die geleentheid te gee om te bewys dat jy aan Hom getrou is. Jou toetse is die manier hoe jy na die volgende vlak in sy koninkryk beweeg. Daardie dag het Abraham bewys dat hy vir niks liewer as vir God was nie. Dit was ook daardie dag dat God Homself as ‘Jehovah Jireh’ – die Here wat voorsien – aan Abraham voorgestel het. Dis wanneer jy jou geloof uitoefen dat jy God se getrouheid ontdek. Die toetse sal ongetwyfeld rondom dit wat die belangrikste vir jou is, gesentreerd wees. Waarin vind jy hou identiteit? Waarin vind jy jou sekuriteit? Dit is jou “Isak”. God sal jou toets om seker te maak dat jy jou identiteit en sekuriteit in Hom alleenlik vind. Hy sal inderwaarheid enigiets toets wat jy meer as Hom vertrou, totdat jy dit op die altaar plaas. Moenie bekommerd wees nie; jy hoef nie in vrees te lewe dat God dit wat vir jou die belangrikste is gaan wegneem nie. Wanneer die geskenk egter belangriker as die Gewer word, dan word die einste ding wat God jou gegee het om sy doelwitte te dien, iets wat sy plan vir jou lewe ondermyn. Dit is hoekom God dit sal hanteer.
Sielskos: Deut 32:29-34:12; Mark 9:1-13; Ps 62; Spr 12:18-19