Die huweliksverbond (2)
2018-02-02Efesiërs 5:25 NLV
Ons definieer die woord ‘liefde’ op verskeie maniere. Mense sê dinge soos, ‘Ek is lief vir sjokoladekoek,’ of ‘Ek is lief daarvoor om rugby te kyk.’ Wat hulle regtig bedoel is dat hulle van hierdie dinge hou of dit geniet. Die Bybelse definisie van liefde is baie dieper as dit wat ons geniet of opgewonde maak en dit wat ons emosioneel aan mekaar verbind. Om iemand lief te hê is om hulle welstand na te streef en dit ‘n prioriteit te maak. Liefde se eerste belang is altyd: ‘Hoe dra hierdie aksie van my tot my maat se welstand by?’ As dit nie ‘n bydrae maak nie – of as dit die teenoorgestelde doen – is dit nie liefde nie. Die Bybel sê, ‘Getroude mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus liefde aan die kerk bewys het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het… Op dieselfde manier moet mans hulle eie vroue liefhê. Hulle moet hulle liefhê asof hulle hulle eie liggame is. ‘n Man wat sy eie vrou liefhet, het dus eintlik homself lief. ‘n Mens haat mos nie jou liggaam nie, maar voed en versorg dit…’ (verse 25-29 NLV). As ‘n man, kan jy twee dinge uit hierdie Skrifgedeelte leer: 1) Ons is almal inherent selfsugtig. Een van jou grootste uitdagings sal altyd dus wees om jou vrou se belange voor jou eie te stel en om gewillig te wees om jou eie agenda daarvoor op te offer. 2) Ons moet oefen om sensitief te wees. Dink aan hoe sensitief jy vir jou eie liggaam se pyne en behoeftes is en pas dan dieselfde beginsel aan jou vrou se versorging toe. Dis ‘n groot verantwoordelikheid, maar God sal jou die genade voorsien om dit te doen. Put dus krag uit sy genade!
Sielskos: Num 14-15; Matt 12:1-14; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26