Moenie dit net lees nie, doen dit (1)
2018-01-23Jakobus 1:22 NLV
‘n Besigheidsman wat bekend was vir sy meedoënloosheid, arrogansie en godsdiensywer het vir Mark Twain gesê dat hy beplan om voor sy dood die Heilige Land te besoek, Sinaiberg uit te klim, en die Tien Gebooie hardop te lees. ‘Ek het ‘n beter idee,’ het Twain geantwoord. ‘Bly net hier in Boston en onderhou net die Gebooie!’ Ons sal eerder oor dit wat ons nie weet nie peins, as om dit te doen wat ons weet ons moet doen. ‘n Maatskappy weet byvoorbeeld dat hulle hul kwaliteitbeheer moet verbeter, dus bespreek die bestuur die probleem, luister na aanbiedinge, lees allerlei boeke, ondersoek nuwe sisteme – maar begin nooit doen wat gedoen moet word om dit te verbeter nie. Hulle probleem is nie onkunde nie; dis dat hulle te veel weet, maar te min doen. Nog ‘n alledaagse voorbeeld: Mense sal eerder die waarde van proteïne teenoor koolhidrate, Franse kookkuns teenoor veganisme, met gewigte oefen teenoor draf debatteer, as om eenvoudig dit wat hulle eet te verander. Dit is eenvoudig: verbrand meer kalorieë as wat jy inneem. So sal sommige Christene eerder oor die doktrine debatteer as om te doen wat Jesus sê. Soos die ou advertensie vir Nike sê – Just do it! Oefen om ‘n moeilike persoon lief te hê; probeer om iemand te vergewe; gee geld weg; stop en sê dankie; loof God; bemoedig ‘n vriend; seën ‘n vyand; sê jammer wanneer jy verkeerd is. Die waarheid is dat jy reeds meer weet as wat nodig is. Niks sit mense so af soos iemand met ‘n kop vol kennis wat welwillendheid en karakter kortkom nie. Jakobus se woorde is vandag nog van toepassing: ‘Julle moet mense word wat dóén wat die Woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie…’
Sielskos: Dan 11-12; Matt 9:14-26; Ps 89:38-52; Spr 3:1-2