Sleutels tot Bybelstudie (1)
2018-01-04Psalm 119:65 NLV
Die Psalmdigter het geskryf, ‘Selfs volmaaktheid het sy perke, maar U gebooie ken geen grense nie.’ Dit beteken dat jy elke keer wat jy ‘n Skrifgedeelte lees, iets anders daarin sal sien. Dit is soos ‘n lig wat op ‘n diamant skyn. Elke keer wat jy die diamant effens draai, sal jy ‘n ander faset van sy skoonheid sien. Dis hoekom die Bybel anders is as enige boek wat jy ooit sal lees. Jy sal dinge oor God uit persoonlike ervarings en deur na ander mense se gedagtes en ervarings te luister, leer, maar jy sal Hom beter as op enige ander manier leer ken wanneer jy sy Woord lees. Jy kan dieselfde Skrifgedeelte oor en oor bestudeer, dit analiseer, dit los vir drie of vier maande en wanneer jy daarna terugkom, sal jy nog meer daarin vind. Die sleutel is: Hou aan! Daar is geen beperking op die aantal vrae wat jy kan vrae, geen beperking op die observasies en toepassings wat jy kan maak nie. Moet dus nie opgee nie! Die beste benadering wat jy in Bybelstudie kan hê, is die een wat Jakob gehad het toe hy met die engel van die Here gestoei het: ‘…Ek sal jou nie laat gaan nie tensy jy my seën’ (Genesis 32:26 NLV). Gevolglik het God vir hom ‘n nuwe naam, ‘n nuwe geaardheid, ‘n nuwe manier van stap en ‘n nuwe toekoms gegee. Bybelstudie het geen kortpaaie nie; dit vereis inspanning. As jy egter ywerig en geduldig is, sal jy groot beloning ontvang. As jy eers die vreugde en bevrediging ervaar wanneer jy ‘n groot geestelike waarheid op jou eie ontdek en dit in jou lewe toepas, sal jy nooit weer Bybelstudie op dieselfde manier benader nie.
Sielskos: 2 Tess 1-3; Matt 4:1-11; Ps 90:7-17; Spr 1:5-9