Belydenis van ‘n geheime sondaar (1)
2017-11-17Lukas 12:2-3 DB
Die inspirerende spreker en skrywer, Julie Ann Barnhill, skryf: ‘Ek neig om ‘n slinkse sondaar te wees. Die grootste tyd van my lewe het ek dit reggekry om onder die radar te vlieg – om 99.9 persent van sulke dinge weg te steek. As iemand wat kerk toe gegaan het en gelyk het of sy ‘n gelukkige familie bestuur, het ek die aandag op die skadukant van my lewe vermy – teen ‘n groot koste. Leuens oor my bestedingsgewoonte het tot finansiële probleme in my huwelik gelei. Hebsug het vriendskappe en tevredenheid by my gesteel. Die tienerwoede wat my myself laat skend het, het later jare oorgespoel in ontploffings van skellende woede teenoor my kinders. Wanneer alkohol my gedurende periodes van eensaamheid en depressie nadergewink het, het ek gegaan. Miskien dink jy, ‘So, jy het nou ‘n paar geheime van jou lewe vir ons vertel – hulle is niks in vergelyking met myne nie.’ Om te probeer wedywer oor wie die aakligste geheime het, is nie die punt nie; ons moet die waarheid aanneem dat ons nie alleen in ons geheime plekke is nie. Dis nie genoeg om net die waarheid uit te blaker nie. Opregte belydenis lei tot radikale vergifnis wat net deur Christus beskikbaar is. Dit bedek dit wat ons gedoen het, maak nie saak hoe erg dit is nie. Jesus ken ons geheime en dit sal Hom nooit daarvan weerhou om ons lief te hê nie. Dit kan egter ‘n hindernis tussen ons en die lewe sonder skaamte wees wat Hy vir ons begeer. Ons bely ons sondes sodat ons verlossing, redding en die ewige lewe kan ontvang. Ons deel ons geheime met vriende wat ons vertrou, sodat ons die realiteit van goddelike genesing deur vlees-en-bloed verhoudings met diegene wat ons liefhet, mag ken.’
Sielskos: Pred 1-3; Joh 10:1-10; Ps 81; Spr 30:11-14